On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Party vra geregtigheid vir dood van Noord-Kaapse tiener

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:16 Wed, 04 Mar 2026

Party vra geregtigheid vir dood van Noord-Kaapse tiener | News Article
Temarion Christians. Foto verskaf

Die DA in die Noord-Kaap vra die provinsiale polisiekommissaris om te verseker geregtigheid geskied ná die dood van ’n tiener op Warrenton.

Tamarion Christians (13) van Warrenvale is dood nadat hy hom Saterdag (8/3) omstreeks 14:00 na bewering in indringers in sy ma se huis vasgeloop het. Lt. genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, moet toesien dat die skuldiges aan die pen ry, sê Lisa Schickerling, DA-wetgewerlid.

“Tamarion, wat nog sy hele toekoms voor hom gehad het, het sy lewe verloor vir ’n paar huishoudelike items wat na bewering verkoop is vir dwelmmisbruik.”

Schickerling beskryf die voorval as nie net ’n verwoestende verlies vir die gesin nie, maar ’n tragedie wat die hele Warrenvale-gemeenskap geskud het. Sy sê geen kind behoort ooit sulke brutaliteit te verduur nie.


Die DA het met Tamarion se familie vergader om hul meegevoel oor te dra en het voortgesette ondersteuning belowe gedurende " ’n ondenkbare tydperk van rou".

Dis noodsaaklik dat die gemeenskap om die familie saamstaan gedurende hul donkerste uur, sê Schickerling. “Hierdie verskriklike misdaad beklemtoon weer die vernietigende impak van dwelmverwante misdaad in ons gemeenskappe. 

“Dwelmmisbruik hou aan om lewens te verwoes, gesinne uitmekaar te dryf en gewelddadige misdaad aan te blaas.”

Haar party veroordeel die sinnelose daad ten sterkste en spoor wetstoepassers aan om ’n vinnige en omvattende ondersoek uit te voer. “Ons sal die saak fyn dophou om te verseker dat geregtigheid geskied en doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom.”


Die Evangelies-Lutherse Kerk in Suider-Afrika (Noord-Kaap) se Sint Philip-gemeente op Warrenton bring hulde aan Temarion. “My hart is swaar as ek die naam Tamarion Christians noem,” sê Dylan Tim Marney. Hy was meer as ’n Sondagskoolleerder by St Philip-gemeente – hy was ’n helder lig, ’n sagte gees en ’n geliefde kind van God. 

“Sy dood het ons gemeenskap in diepe hartseer gelaat, en hoewel daar geen maklike antwoorde is nie, hou ons vas aan ons geloof dat God naby die gebrokenes van hart is. Ons staan saam met sy familie in gebed en hartseer, en vertrou Tamarion rus nou in God se ewige vrede. 

“Mag ons sy nagedagtenis eer deur ons kinders te beskerm en ons gemeenskap te versterk. Rus in vrede, liewe Tamarion – jy sal nooit vergeet word nie.”

Die Noord-Kaapse polisie sê die saak word nie op hierdie stadium as ’n moordsaak ondersoek nie. “ ’n Lykskouing sal uitgevoer word om die oorsaak van die seun se dood te bepaal,” sê ao. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.