On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse wonderbaba tuis ná lewensgevaarlike hartoperasie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:28 Wed, 04 Mar 2026

Vrystaatse wonderbaba tuis ná lewensgevaarlike hartoperasie | News Article
Enzo Breytenbach. Foto verskaf

Die Vrystaatse wonderbaba, wat een van die gevaarlikste hartoperasies op ’n baba ondergaan het, is eindelik tuis en herstel merkwaardig goed.

Die drie maande oue Enzo Breytenbach is Sondag (1/4) ontslaan ná ’n ingewikkelde opehartoperasie in die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

Enzo is op 4 Desember gesond gebore, maar tydens ’n roetineondersoek op 16 Januarie het dokters opgemerk hy word blou. Hy is in ’n pediatriese intensiewesorgeenheid in Welkom opgeneem en later na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Spesialiste het ’n seldsame en lewensgevaarlike kombinasie van hartdefekte by hom gediagnoseer: transposisie van die groot slagare met ventrikulêre septale defek en dubbeleuitlaat-regterventrikel. Albei hoofslagare was aan die verkeerde hartkamer gekoppel, en ’n gat tussen die kamers het hom aan die lewe gehou.

Enzo Breytenbach saam met sy pa, David Breytenbach en ma, Geraldine van Zyl. Foto verskaf

Slegs ’n handjievol spesialiste in Suid-Afrika kan die nodige korrektiewe chirurgie uitvoer. Dokters het sy ouers, Geraldine van Zyl en David Breytenbach, gewaarsku dit is een van die gevaarlikste prosedures wat op babas uitgevoer word. Hulle moes hulle op die ergste voorberei.

Enzo is op 11 Februarie na Kaapstad gevlieg, het Van Zyl vroeër gesê. “ ’n Gedetailleerde 3D-skandering van sy hart is gedoen om die operasie te beplan, wat die herposisionering van die aorta en pulmonale arterie, en die sluiting van die gat tussen die kamers behels het. Die grootste risiko was die brose arteries wat aan die aorta geheg is.”

Enzo slaap in sy eie bed. Foto verskaf

Hy is net ná 08:00 op 18 Februarie in die teater ingestoot. Dokters het die volledige prosedure suksesvol in ’n enkele operasie uitgevoer om die kans op nog opehartoperasies te verminder.

Enzo het vyf dae in intensiewe sorg deurgebring voordat hy na ’n algemene saal oorgeplaas is. Hy het gou op sy eie asemgehaal en goed gevoed, en sy chirurgiese insnyding het merkwaardig vinnig genees. “Dokters was verbaas oor hoe vinnig hy herstel het, met een wat gesê het dit was "slegs gebede wat dit kon doen,” vertel sy pa.

Enzo Breytenbach is by die huis ná 'n groot  hart-operasie. Foto verskaf

Op pad Virginia toe het die gesin weer in Bloemfontein stilgehou om die professor te spreek. Dié het nog ’n sonar gedoen en was tevrede met hoe Enzo se hart lyk en sy algemene toestand.

“Hoewel daar steeds ’n klein lek is waar die chirurgiese pleister geplaas is, sê die spesialiste dat dit nie ’n probleem is nie en verwag dit sal natuurlik sluit soos hy groei,” sê sy ma.

“Enzo drink baie goed en voed elke dag meer. Hy het reeds geleer as hy histeries skree, hy dadelik sy melk sal kry,” skerts sy. “Hy het ook begin lag, en ten spyte van alles die afgelope tyd bereik hy al sy mylpale. Sy gewig is steeds laag as gevolg van die harttoestand en chirurgiese trauma, maar hy het sedert sy ontslag bestendig gewig opgetel.”

Enzo Breytenbach ná sy hartoperasie. Foto verskaf

Volgens Geraldine moet Enzo vir ’n maand afgesonder word. Selfs ’n ligte verkoue kan lewensgevaarlik wees.

“Ons kan nie nou die risiko loop dat hy enige infeksie opdoen nie. Daarom het ons almal gevra om ons asseblief ’n maand te gee en nie te kom kuier nie. Ons sal steeds foto’s en opdaterings stuur, maar vir nou moet ons net versigtig wees,” sê Van Zyl.

As besoekers wel opdaag, moet hulle hul hande was, ontsmet, ’n masker dra en hom nie aanraak nie. “Almal het so hard gebid dat hy moet lewe. Nou moet ons almal hom beskerm. As iemand hom in gevaar stel, gaan hierdie ma baie streng en baie kwaad wees.”

Enzo moet weer op 11 April in Bloemfontein wees vir ’n ondersoek. Hy sal ook deur sy kinderarts ondersoek word.

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.