Central SA
Twee vas ná moord op Noord-Kaapse tiener─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:58 Thu, 05 Mar 2026
Twee verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn ná die moord op ’n tiener van Warrenton.
Die twee mans (23 en 27) is Woensdag (4/3) op Warrenton in hegtenis geneem op aanklagte van huisroof en moord. Die verdagtes is geïdentifiseer nadat gesteelde artikels teruggevind en met hulle verbind is.
Tamarion Christians (13) se ouers het Saterdag omstreeks 14:00 die polisie ontbied nadat hulle in hul woonkamer in Warrenvale op sy liggaam afgekom het ná ’n inbraak, sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Die vasbeslotenheid van beamptes van die provinsiale eenheid teen ernstige en geweldsmisdade het gelei tot die vinnige inhegtenisneming van die verdagtes,” voeg sy by.
’n Lykskouing is gehou om die oorsaak van dood te bepaal, maar die uitslag is nog nie bekend nie. Dit sal deel uitmaak van die ondersoek.
Die DA in die Noord-Kaap het net ná die moord gevra die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Koliswa Otola, moet toesien die skukdiges word so gou moontlik aangekeer.
“Ons neem kennis van die inhegtenisneming van twee verdagtes in die moord op Tamarion Christians," sê DA-wetgewerlid Lisa Schickerling. “Ons bedank lt.genl. Koliswa Otola en die polisie vir hul vinnige optrede. Ons sal hierdie saak fyn dophou en vertrou dat diegene wat verantwoordelik is, ten volle aanspreeklik gehou sal word.”
Otola loof intussen beamptes van die provinsiale eenheid teen ernstige en geweldsmisdaad, die provinsiale opsporingspan en Jan Kempdorp se misdaadintelligensie vir hul deursettingsvermoë en flinke optrede.
Sy beklemtoon misdaad teen vroue en kinders bly ’n prioriteit. “Die polisie sal geen steen onaangeroer laat nie om te verseker dat oortreders aan die pen ry vir dié gruwelike misdade.”
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

