On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-sorgoord: Ses oor beweerde aanranding van 81-jarige weer in hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:18 Fri, 06 Mar 2026

Welkom-sorgoord: Ses oor beweerde aanranding van 81-jarige weer in hof | News Article
Anna Fourie en Lynette Brummer in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die ses mense wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n 81-jarige in ’n Vrystaatse versorgingsoord aangerand het, sal weer op 30 Maart in die hof verskyn, wanneer ’n verhoordatum na verwagting vasgestel sal word.

Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Mapaseka Majorobella (35), Nomsa Ngcongwane (55), Ntswaki Mofolo (30) en Puseletso Moloi (33) sal in die Welkomse streekhof verskyn. Die ses, almal voormalige werknemers van die Silver Village-versorgingsoord in Welkom, het Vrydag (6/3) verskyn en staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

’n Anonieme bron beweer 40 video-opnames wat verband hou met die beweerde aanranding van Bettie Payne sal as bewysstukke ingedien word. Die beeldmateriaal van 7 Julie wys na bewering hoe Brummer pille in Payne se mond forseer, in haar gesig blaas, haar neus toeknyp en op haar spoeg nadat sy weier om die medisyne te neem.

Toe Payne begin skree, het Brummer na bewering met kleefband teruggekeer en dit om Payne se mond en kop gedraai.  Payne se dogter, Mariana, het kort voor die voorval ’n kamera in haar ma se kamer laat installeer nadat sy vermoed het iets is verkeerd.

Bettie Payne en haar dogter Mariana. Foto verskaf

Die hof het die beskuldigdes gewaarsku die aanklagte is ernstig en elke oortreding kan ’n vonnis van tot 15 jaar tronkstraf oplewer indien hulle skuldig bevind word. 

Brummer, wat ’n senior pos by die versorgingsoord beklee het en ook ’n aandeelhouer was, word as die hoofbeskuldigde beskou, het ao. Anja Tait, ondersoekbeampte, vroeër gesê.

Sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat onder streng voorwaardes, insluitend dat sy ten minste 100m van die fasiliteit af moet bly en haar paspoort moes inhandig. Die ander vyf beskuldigdes is elk op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Bettie Payne se hande. Foto verskaf

Tait het vroeër getuig die video-opnames is deur ’n sigbare kamera in die kamer vasgelê en die personeel was bewus daarvan. Die beeldmateriaal is later aan die ondersoekbeamptes oorhandig.

Fourie, Majorobella, Ngcongwane, Mofolo en Moloi word ook in die beeldmateriaal geïmpliseer. Fourie het na bewering die kamer met ’n selfoon binnegekom terwyl Payne om hulp geskree het, terwyl twee personeellede na bewering toegekyk het.

Brummer word verder daarvan beskuldig dat sy Payne met ’n kombers toegemaak het, gesê het niemand sou haar hoor nie, die lig afgeskakel het en die kamer verlaat het.

Sorgoord-aanranding: Twee beskuldigdes verander van prokureurs | News Article

Puseletso Moloi, Ntswaki Mofolo, Nomsa Ngcongwane, Mapaseka Majorobella, Anna Fourie en Lynette Brummer. Foto: Charne van der Merwe

Fourie het na die voorval bedank, terwyl die ander werknemers ná dissiplinêre verhore ontslaan is. Die verdediging het vroeër die wettigheid van die inhegtenisnemings bevraagteken en die staat beskuldig dat hulle die verrigtinge vertraag het. 

Tait se beëdigde verklaring en haar getuienis, wat swaar op die videobewyse gesteun het, is ook betwis. Die hof het die borgtogvoorwaardes vir al ses beskuldigdes verleng.

Die verdediging het die hof versoek om die neem van fotos tydens die verrigtinge te verbied, maar die aansoek is van die hand gewys. Die landdros het verduidelik daar is geen regsgrondslag vir so ’n verbod nie en het opgemerk dat selfs hoër howe fotos onder soortgelyke omstandighede toelaat.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.