On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Veiligheidsrisiko’s by Bloemfontein-vullisterreine kort nóú aandag – AfriForum

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:21 Sat, 07 Mar 2026

Veiligheidsrisiko’s by Bloemfontein-vullisterreine kort nóú aandag – AfriForum | News Article
Ongesonde en onveilige toestande heers by Bloemfontein se vullisterreine. Foto verskaf

Die Mangaung-metromunisipaliteit word gevra om dringend ’n plan te maak met die veiligheidsrisiko’s by plaaslike vullisterreine.

AfriForum het in September 2025 twee strafregtelike sake teen Mangaung aanhangig gemaak. Die sake hou verband met die munisipaliteit se versuim om die vereiste standaarde te handhaaf by die noordelike en suidelike stortingsterrein in Bloemfontein.

Die  burgerregteorganisasie waarsku Sello More, die stadsbestuurder, in ’n skrywe die voortgesette teenwoordigheid van onwettige bewoners op hierdie vullisterreine hou ’n ernstige veiligheidsgevaar in vir omliggende gemeenskappe, sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder.

“Ondanks verskeie veiligheidsoperasies om onwettige bewoners van die terreine te verwyder, blyk dit die situasie bly grootliks onveranderd.”

Onwettige woonstrukture op die suidelike stortingsterrein. Foto verskaf

AfriForum meen die metro se aankondiging dat herwinners ’n proses moet volg om te registreer alvorens hulle op die terreine kan werk, los nie die kern van die probleem op nie. 

Groenewald sê hoewel administratiewe regulering van herwinning bepaalde voordele kan inhou, los dit nie die probleem van die onwettige bewoning van munisipale eiendom en die gepaardgaande misdadige aktiwiteite op nie.

Die organisasie betwis ook die metro se ontkenning dat georganiseerde bendes, soos die sogenaamde Born to Kill (BTK)-bende, op die vullisterreine bedrywig is. Tydens verskeie veiligheidsoperasies is verskeie onwettige bewoners geïdentifiseer wat glo bande met georganiseerde misdaadstrukture het. 

Huisbraak, verdagte persone en ander misdadige aktiwiteite word gereeld in omliggende woonbuurte aangemeld. In verskeie gevalle waar mense aangekeer is of verdagtes ondervra is, het dit geblyk van dié persone het bande met die BTK-bende. 

Die munisipaliteit kan nie toelaat dat sy infrastruktuur ’n broeiplek vir misdadige elemente word nie.

“Die voortgesette teenwoordigheid van onwettige bewoners op hierdie vullisterreine stel omliggende gemeenskappe aan ernstige risiko’s bloot en ondermyn wetstoepassingspogings. Die metro moet dringend optree om hierdie terreine behoorlik te beveilig en die onwettige besetting daarvan te beëindig,” sê Groenewald.

AfriForum wys ook daarop die organisasie oudit reeds vir ’n dekade lank jaarliks vullisterreine landwyd. Dit sluit Bloemfontein s’n in. “Ten spyte daarvan dat tekortkominge gereeld in die oudits uitgewys word, was daar min tot geen betekenisvolle verbetering in die veiligheid en bestuur van hierdie terreine oor die afgelope tien jaar.”

Huisbraak, verdagte persone en ander misdadige aktiwiteite word gereeld in buurte rondom die vullisterreine aangemeld. Foto verskaf

AfriForum het die Mangaung-metro versoek om dringend strenger toegangsbeheer en veiligheidsmaatreëls by albei vullisterreine in te stel, alle onwettige bewoners te verwyder en saam met wetstoepassingsowerhede op te tree teen die teenwoordigheid van georganiseerdemisdaad-elemente.

Die organisasie versoek ook die kantoor van die stadsbestuurder moet binne tien werksdae ná ontvangs van die skrywe skriftelike terugvoering verskaf oor die stappe wat die metro beplan om die kwessie op te los.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.