Central SA
Mosiuoa Lekota met staatsbegrafnis in Bloemfontein vereer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:52 Sat, 07 Mar 2026
'n Spesiale kategorie 2-staatsbegrafnis sal in Bloemfontein gehou word vir ’n veteraan-vryheidsvegter en senior politieke leier wat ’n belangrike rol in Suid-Afrika se bevrydingstryd en demokratiese era gespeel het.
Mosiuoa Lekota (77), ’n prominente politieke figuur wat in Kroonstad in die Vrystaat gebore is, is Woensdag (4/3) in die vroeë oggendure oorlede ná ’n lang siekte. Die Cope-leier word Saterdag (14/3) ter ruste gelê.
Pres. Cyril Ramaphosa sê die land sal die gestorwe staatsman vereer vir sy lewenslange bydrae tot die stryd teen apartheid en die bou van demokrasie.
Hy sê hy het “met diepe hartseer” van Lekota se afsterwe verneem en hom beskryf as ’n patriot, vryheidsvegter en dienaar van die mense wie se lewensverhaal nou verweef is met Suid-Afrika se reis na demokrasie.
“Suid-Afrika het ’n patriot, ’n vryheidsvegter en ’n dienaar van die mense verloor wie se lewensverhaal nou verweef is met ons reis van stryd en die verwesenliking van demokrasie,” sê Ramaphosa.
“Sy lewe was een van veerkragtigheid, moed en ’n standvastige geloof in geregtigheid. Ons eer hom veral vir sy beginselvaste toewyding aan nie-rassigheid tydens ons stryd en in ’n bevryde Suid-Afrika.”
Lekota het van 1994 tot 1996 as die eerste premier van die Vrystaat gedien en die provinsie deur die vroeë jare van Suid-Afrika se demokrasie gelei. Hy het later van 1999 tot 2008 as minister van verdediging gedien en ’n sleutelrol in die land se nasionale veiligheidstrukture gespeel.
Ramaphosa het ook Lekota se bydrae tot die versterking van demokratiese instellings beklemtoon en sê sy visie vir inklusiewe regering het gehelp om die parlement te vorm.
“Hy was instrumenteel in die stigting van die Nasionale Raad van Provinsies, wat ’n nuwe dimensie van demokratiese insluiting tot ons parlementêre stelsel gevoeg en verseker het dat gemeenskappe regoor die land gehoor en verteenwoordig word,” het Ramaphosa gesê.
Voordat hy Cope in 2008 gestig het, was Lekota van 1997 tot 2007 nasionale ANC-voorsitter. Hy het dekades lank ’n invloedryke stem in die Suid-Afrikaanse politiek gebly.
Sy politieke aktivisme het gedurende sy studentejare begin toe hy by die South African Students’ Organisation (Saso) aangesluit het. Hy het van 1974 tot 1975 as organiseerder gedien.
Gedurende die apartheidsera is Lekota op Robbeneiland aangehou nadat hy skuldig bevind is aan sameswering om dade te pleeg wat die handhawing van reg en orde in gevaar sou stel. Hy was tussen 1974 en 1982 agter tralies.
Mosiuoa Terror Lekota and I have a long history of political activism. He was a committed South African who loved his country and I will continue to honour him. My deepest condolences go to his family and loved ones. pic.twitter.com/GsC70Cg5HN
— Cyril Ramaphosa ???? (@CyrilRamaphosa) March 4, 2026
Ná sy vrylating in 1983 is hy weer aangehou as een van die beskuldigdes in die Delmas-hoofverraadverhoor van 1985. Hys was vir vier jaar in aanhouding voordat die skuldigbevindings in 1989 tersyde gestel is.
Die ANC sê in ’n verklaring Lekota het ’n belangrike rol gespeel in die stryd teen apartheid wat uiteindelik tot Suid-Afrika se demokratiese oorgang in 1994 gelei het.
Suid-Afrika sal hom onthou “vir sy patriotisme, sy intellek en sy innemende aard”, terwyl die nasie voorberei op die laaste eerbetoon met die staatsbegrafnis in Bloemfontein, sê Ramaphosa.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

