Central SA
Swamsiekte eis 13-jarige Volkskool-leerling─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:02 Sat, 07 Mar 2026
’n Tiener van Noordwes is oorlede nadat sy byna ’n maand lank teen ’n swamsiekte geveg het.
Mariné Pretorius (13) is Donderdag (5/3) in die Potchefstroom-hospitaal oorlede. Sy is Dinsdag (3/3) aan ’n ventilator gekoppel nadat kardiopulmonêre resussitasie (KPR) uitgevoer is. Daar was ook kommer dat haar breinfunksie geleidelik verminder het.
Die gr. 8-leerling aan die Hoër Volkskool Potchefstroom het vroeg in Februarie begin siek word. “Sy was naar en het maagpyn gehad. Dit het gekom en gegaan, en sy het steeds skool toe gegaan. Ek het haar pynstillers gegee, maar toe het sy opgehou om te eet,” sê Senobia Snyman, haar ma.
Net voordat sy op 11 Februarie in die hospitaal opgeneem is, het Snyman haar dokter toe geneem omdat sy ongesteld gevoel het. Dié het aanvanklik vermoed sy het nierstene en het ‘n ultraklankondersoek aanbeveel.
“Geen nierstene is gevind nie. Sy het erge pyn gehad en haar infeksietelling was meer as 300.”
Dokters kon aanvanklik nie vasstel wat fout is nie. Nadat sy opgeneem is, het Mariné verskeie bloedtoetse en CT-skanderings ondergaan en is X-strale geneem voordat ’n swaminfeksie in haar longe opgespoor is. Dit het ook na haar bloedstroom versprei.
Volgens Snyman was haar organe, veral haar niere, aangetas. Sy het dringend dialise benodig, maar daar was ’n wagtydperk vir ’n beskikbare hospitaalbed in Klerksdorp. “Mariné se niere het opgehou funksioneer. Ná twee weke in ’n hospitaalsaal is sy op 24 Februarie na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas.”
Haar toestand het versleg toe sy longontsteking ontwikkel het en skaars kon eet. “Sy het omtrent net twee happies kos ingekry en ’n halwe liter water gedrink. Sy het baie swak geword. Nadat sy na die intensiewesorgeenheid verskuif is, het die dokters haar ook ekstra plasma en bloed gegee,” sê haar ma.
Mariska Cronje, gr. 8-graadvoog, sê hoewel Mariné net vir ’n maand ’n leerling van Volkskool was voordat sy siek geword het, het sy reeds ’n goeie indruk gemaak op haar onderwysers en klasmaats. “Sy het op haar stil manier met oorgawe deelgeneem aan al die gr. 8-aktiwiteite om met trots ’n volbloed Volkie te word. Ons het haar leer ken as ’n pligsgetroue leerder met ’n sagte hart wat nooit gehuiwer het om hulp aan te bied nie. Sy het liefde uitgestraal en omgegee vir die mense om haar.”
Cronje sê sy sal altyd haar vriendelike “môre, Juffrou!” en stywe drukkies onthou wanneer sy spesiaal by haar klas omgeloop het om haar te kom groet. “Sy was altyd so dankbaar as sy hulp ontvang het met iets wat sy nodig gehad het. Sy was ’n pragtige mens. Om haar so stadig te sien agteruitgaan, was hartverskeurend. Ons het bly bid en glo dat sy vinnig weer by die skool sou wees. Haar dood is tragies.”

Mariné Pretorius het liefde uitgestraal. Foto verskaf
Sy beskryf Mariné as ’n stil, vriendelike kind wat nie noodwendig in die kollig wou wees nie, maar “as jy kyk na haar klasmaats en die skoolgemeenskap se reaksie op haar dood, besef ons dat sy op haar stil manier ’n reuse-impak gemaak het. Ons harte is stukkend om so ’n pragtige kind te verloor!”
Lede van die Volkskool- en Potch-gemeenskap het Woensdagoggend bymekaargekom en ’n oomblik van stilte vir Mariné gehou. Sy is ’n paar uur later oorlede.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

