On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Pulane
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

‘Kalm ondanks spanning in Midde-Ooste’ – Suid-Afrikaner in Doha

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:08 Sat, 07 Mar 2026

‘Kalm ondanks spanning in Midde-Ooste’ – Suid-Afrikaner in Doha | News Article
Rook en vlamme styg op ná 'n Israeliese lugaanval op die Dahieh-voorstad van Beiroet. Foto: Wael Hamzeh/EPA

'n Suid-Afrikaner wat in Doha woon en werk, sê die lewe in die Katarrese hoofstad gaan sy gewone gang ten spyte van toenemende spanning dwarsoor die Midde-Ooste.

Die Suid-Afrikaanse regering het sy burgers in die Midde-Ooste aangesê om verskeie lande te ontruim, aangesien swaar aanvalle in die komende dae in die streek verwag word. Die situasie versleg steeds nadat die VSA en Israel Iran Saterdag (28/2) aangeval het. Die dodetal is reeds op meer as duisend, onder wie Iran se opperleier, ajatolla Ali Chamenei.

Iran reageer met aanvalle op state soos die Verenigde Arabiese Emirate, Oman, Katar en Koeweit, wat volgens die Islamitiese Republiek Amerikaanse militêre instellings huisves.

Corné Gomes (31) van Johannesburg woon al byna twee jaar in Katar en werk vir ’n luukse hotelgroep. “Ek het die eerste keer besef dit kan Katar raak toe berigte begin inkom oor lugruimbeperkings en veiligheidswaarskuwings. Ek het besef dit kan direkte gevolge vir Doha hê.”

Die Pearl Island in die West Bay-distrik van Doha is 'n mensgemaakte eiland en 'n baie gewilde toerismebestemming. Foto verskaf

Katar hou inwoners op die hoogte van die potensiële risiko’s in die streek, vertel hy. “Katar huisves die grootste Amerikaanse basis in die Midde-Ooste, die Al Udeid-weermagbasis. As gevolg van daardie teenwoordigheid verstaan mense hier dat streekspanning Katar moontlik ook kan beïnvloed.”

Volgens die departement van internasionale betrekkinge en samewerking was meer as 6 400 Suid-Afrikaners op 4 Maart in die Midde-Ooste geregistreer deur die Travel Smart-stelsel.

Die regering spoor Suid-Afrikaners aan om gebruik te maak van die beperkte aantal handelsvlugte en voor te berei om geraakte gebiede te verlaat sodra dit veilig is. Ten spyte van die toenemende streekspanning, sê Gomes die daaglikse lewe in Doha gaan betreklik normaal voort.

Doha, die hoofstad van Katar. Foto verskaf

“Op die grond is dinge eintlik kalm. Mense is bewus van die situasie en volg die nuus, maar daar was nie paniek in die stad nie.”

Ramadaan maak die lewe ook rustiger. “Die lewe beweeg ’n bietjie stadiger omdat dit Ramadaan is en baie mense meer tuis bly.”

Gomes sê hoewel die situasie op die oomblik rustig is, begin inwoners die tekens van die voortdurende konflik opmerk. “Jy kan die impak van die missiel-onderskepping hoor wanneer ingegryp word. Soms kan jy ook die onderskeppings in die lug sien.”

Waarskuwings

Inwoners ontvang gereelde waarskuwings van die regring, sodat “jy weet wanneer iets gebeur en wanneer dit veilig is”.

Talle voorsorgmaatreëls is ingestel, soos dat inwoners gewaarsku word om binnenshuis te bly tydens waarskuwings en om weg te bly van vensters en blootgestelde plekke.

'n Irannese vrou staan Vrydag (6/3) voor haar huis wat beskadig is in 'n aanval op Teheran. Foto: Hossein Esmaeil/UPI/Shutterstock

“Die regering en openbare sektor het oorgeskakel na afstandwerk waar moontlik, en skole werk ook aanlyn as ’n voorsorgmaatreël. Alle vlugte is sedert 28 Februarie gekanselleer omdat die lugruim gesluit is,” sê Gomes. “Dit beïnvloed reisplanne en die aankoms van gaste by die hotel waar ek werk.”

Sommige besoekers word gedwing om hul verblyf te verleng terwyl ander hul besprekings gekanselleer het. “Dit het daaglikse bedrywighede meer onvoorspelbaar gemaak, omdat ons vinnig by veranderende omstandighede moet aanpas.”

Voorsorgmaatreëls

Ondanks die onsekerheid glo Gomes die regering bestuur die situasie doeltreffend. “Van wat ek gesien het, neem die regering die situasie baie ernstig op en tree hulle versigtig op. Die kommunikasie- en voorsorgmaatreëls stel inwoners gerus.”

Volgens Gomes lyk die situasie aanlyn meer dramaties as wat inwoners ervaar, omdat inligting vinnig versprei word en oordrewe kan wees. “Mense is bewus van ’n streekskonflik en ’n mate van risiko,” sê Gomes. “Maar die daaglikse lewe in Doha is steeds taamlik kalm en georganiseerd.”

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.