Central SA
DA eis deursigtigheid oor Lourierpark-behuisingsontwikkeling─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:42 Sat, 07 Mar 2026
Ten volle deursigtigheid word gevra oor ’n omstrede behuisingsontwikkeling in Bloemfontein.
Die DA waarsku deur mense toe te laat om hulle op grond te vestig sonder behoorlike dienste, kan kwesbare inwoners in ernstige gevaar stel en diensleweringsprobleme in omliggende gemeenskappe vererger.
Die party sê hy beywer hom vir die openbaarmaking van alle goedkeurings, ontwikkelingsplanne en magtigings wat verband hou met die voorgestelde behuising in Lourierpark, deur besetters “Mountain View” genoem. Dit is om te verseker enige ontwikkeling in die Mangaung-metro voldoen ten volle aan die wet.
Die party wil verseker inwoners beland nie in onveilige lewensomstandighede weens haastige of swak beplande ontwikkelings nie.
“Ons kan nie toelaat dat mense op grond gevestig word waar daar geen behoorlike water, sanitasie, elektrisiteit of infrastruktuur is nie. Behuisingsontwikkeling moet wettig en verantwoordelik uitgevoer word om inwoners te beskerm,” sê Greg van Noord, DA-raadslid
Die Vrystaatse hooggeregshof het die verrigtinge rakende die metro se planne vir Lourierpark uitgestel. Die bestaande bevel is tot 16 April verleng terwyl die partye kan voortgaan met gesprekke om ’n wettige en werkbare oplossing te vind.
Van Noord sê die DA het probeer om ’n ooreenkoms te bereik wat sou toelaat dat die ontwikkeling voortgaan, mits streng voorwaardes nagekom word.
“Ons het aangedui die ontwikkeling kan voortgaan indien noodsaaklike munisipale dienste behoorlik aangebring word voor enige besetting van die grond. Ons het ook volle deursigtigheid versoek rakende diensvlakooreenkomste met kontrakteurs wat verantwoordelik is vir die verskaffing van daardie dienste.”
Geen ooreenkoms oor die voorwaardes kon nog bereik word nie, hoewel besprekings gedurende die uitstelperiode sal voortduur.
Van Noord waarsku behuisingsingrypings moet sorgvuldige beplanning en die veiligheid van inwoners voorop stel.
“Wanneer munisipaliteite mense toelaat om grond te beset sonder voldoende infrastruktuur, is die gevolge ernstig. Dit lei tot onveilige lewensomstandighede, infrastruktuur wat onder druk ineenstort en dienslewering wat afneem in omliggende gemeenskappe.”
Die DA vereis volle toegang tot alle rekords en dokumentasie wat residensiële ontwikkelings in die Mangaung-metro beheer.
“Ons wil volle deursigtigheid hê oor die goedkeurings, proklamasies, begunstigdes en ontwikkelingsplanne wat met hierdie projek verband hou. Inwoners verdien dit om te weet dat ontwikkeling wettig geskied,” sê Van Noord.

Volgens Van Noord het verteenwoordigers van die stad aangedui hulle is bereid om toegang tot die rekords te verskaf terwyl besprekings voortduur.
Die DA is ook besig met interne appèlle teen sekere goedkeurings nadat die party reeds sy hofaansoek beteken het.
Van Noord sê verantwoordelike behuisingsontwikkeling behoort geleenthede te skep en gemeenskappe te versterk. “Behoorlik beplande ontwikkeling ondersteun ekonomiese bedrywighede, skep werksgeleenthede en verseker woonbuurte groei op ’n manier wat veiligheid en stabiliteit verbeter.”
Hy voeg by kortpaaie vir politieke gerief kan langtermyn-gevolge vir inwoners hê. “Ons sal voortgaan om beslissend op te tree om inwoners te beskerm en te verseker behuisingsontwikkelings in Mangaung verskaf die betroubare dienste, veiligheid en waardigheid wat gemeenskappe verdien.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs


