Central SA
Vaaldriehoek-rioolkrisis: Nóg klagte by klagstaat gevoeg─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:16 Sun, 08 Mar 2026
Die hofsaak teen die bestuurder van die Emfuleni-munisipaliteit is tot 4 Mei uitgestel om wysigings aan die klagstaat toe te laat.
Die staat het gesê die ondersoek is afgehandel. Bykomende aanklagte sal na verwagting by die bestaande klagstaat gevoeg word, insluitend aanklagte wat AfriForum in 2024 en 2025 aanhangig gemaak het.
April Ntuli, munisipale bestuurder, het Dinsdag (3/3) in die hof verskyn.
Die saak spruit voort uit drie afsonderlike strafregtelike aanklagte wat AfriForum in 2018, 2024 en 2025 teen Ntuli aanhangig gemaak het rakende die voortdurende rioolstorting in die Vaalrivier.

Rou riool veroorsaak grootskaalse besoedeling wat die omgewing bedreig en gesondheidsgevare vir inwoners inhou. Foto verskaf
Die aanklagte hou verband met grootskaalse besoedeling wat die omgewing bedreig en gesondheidsgevare vir inwoners inhou.
AfriForum ook sy regspan opdrag gegee om ’n amptenaar aan te stel wat die strafproses noukeurig sal monitor, hofverrigtinge sal bywoon, met die NVG sal skakel en sal verseker die saak word nie onnodig vertraag, verswak of laat vaar nie, sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentrale streek.
Die amptenaar het bevestig die klagstaat bevat nou ook al drie AfriForum se klagtes rakende rioolbesoedeling.

Riool vloei voortdurend in die Vaalrivier in. Foto verskaf
“AfriForum het die derde klag in Mei verlede jaar ingedien nadat rou riool in inwoners se huise ingestroom het weens ineengestorte infrastruktuur.
“Ten spyte van herhaalde klagtes van die gemeenskap en ’n memorandum wat aan die munisipale bestuur oorhandig is, is geen betekenisvolle stappe gedoen nie. AfriForum was dus gedwing om ’n bykomende strafregtelike klag in te dien.”
Dit word verwelkom dat al die klagte nou in ’n enkele klagstaat ingesluit word, aangesien dit verband hou met dieselfde voortdurende oortredings, voeg Grobbelaar by.

Onlangse foto's wys groot volumes rou riool word steeds in die rivier gepomp. Foto verskaf
“Sedert ons die klagte aanvanklik ingedien het, is geen verbeterings aangebring nie. Die munisipale bestuurder ignoreer steeds klagtes van die gemeenskap terwyl ons pragtige Vaalrivier toenemend besoedel en beskadig word.
“Die gemeenskap is gefrustreerd met ’n munisipaliteit wat versuim om sy grondwetlike plig na te kom om inwoners en die omgewing te beskerm. Daarom wil ons graag toesien dat die munisipale bestuurder in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word, hetsy deur ’n aansienlike boete of selfs gevangenisstraf.”
AfriForum sal voortgaan om geregtigheid na te streef. “Ons kan nie toelaat dat ons natuurlike omgewing die prys bly betaal vir swak en onbevoegde bestuur nie.

Die Vaalrivier se besoedeling hou gesondheidsrisiko's in. Foto verskaf
“Talle waarskuwings is uitgereik, maar geen betekenisvolle optrede het gevolg nie. Iemand moet aanspreeklik gehou word vir hierdie omgewingsramp en geregtigheid moet sy gang gaan.”
Intussen bly die gemeenskap wat langs die Vaalrivier woon, aktief betrokke by pogings om die rivier skoon te maak.
“Inwoners moes onlangs uit hul eie sak betaal om waterslaai uit die rivier te verwyder weens verhoogde rioolbesoedeling, wat voedingstowwe vir hierdie skadelike plant verskaf. Onlangse foto’s wys dat groot hoeveelhede rou riool steeds in die rivier gepomp word.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

