Central SA
Man op tog vir brandslagoffers kritiek in hospitaal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:45 Tue, 10 Mar 2026
’n Motorfietsryer wat byna ’n uithourit voltooi het om geld in te samel vir brandslagoffers, is in ’n kritieke maar stabiele toestand ná ’n ongeluk.
Jason Kilian was Saterdag (7/3) omstreeks 11:40 naby Carnarvon in die Noord-Kaap in ’n motorfietsongeluk betrokke. Hy is per helikopter na ’n hospitaal gehaas vir spesialis mediese behandeling, waar hy tans sorg ontvang.
Kilian, stigter van Modderbok Adventures, het ’n stabiele nag gehad, sê Annerie du Plooy, van die Hero Burn Foundation.
“Die suurstof op die ventilator is verder verminder tot 24% terwyl sy suurstofversadiging konstant op 100% bly. Sy lewensbelangrike tekens is binne normale perke, wat bemoedigend is. Jason bly kritiek maar stabiel, en hy veg ongelooflik hard.”

Jason veg hard. Foto verskaf
Volgens du Plooy is hy heeltemal verdoof en op ’n ventilator vir ondersteuning, hoewel die dokters sê hy haal ook self asem. “Sy lewenstekens lyk goed, hoewel sy bloeddruk effens laag is as gevolg van die sedasie.
“Jason het geen frakture nie, waarvoor ons dankbaar is. Die dokters fokus tans op sy kopbesering. Hy is onder noukeurige waarneming terwyl ’n neurochirurg na verwagting later verdere inligting oor die MRI-uitslae sal verskaf.”
Kilian het Donderdag (5/3) The Epic Ride aangepak met ’n doelwit om 3 000 myl (sowat 4 800km) in drie agtereenvolgende dae af te lê en R250 000 vir die Hero Burn Foundation in te samel. Die organisasie ondersteun brandslagoffers en hul naasbestaandes landwyd.

Jason het die reis aangepak vir brandslagoffers. Foto verskaf
“Baie van ons brandslagoffers bring maande of selfs jare in die hospitaal deur. Dit is vir my van kardinale belang dat hulle direkte kontak met hul familie het, want daardie ondersteuning is noodsaaklik vir die genesingsproses,” sê Du Plooy.
Sy sê die pad na herstel vir hierdie pasiënte is dikwels eensaam en peperduur. Mediese onkoste kan wissel van R20 000 tot R2 miljoen. Dit is ’n lewenslange besering wat nie ná ’n jaar of twee “weggaan” nie.

Jason is nou onder sedasie. Foto verskaf
Arbeidsterapie, fisioterapie en kompressieklere is dikwels nodig om pasiënte te help om weer deel van die gemeemskap te word.
Du Plooy sê geld word gebruik om pasiënte te help om in kontak te bly met geliefdes, basiese toiletware te verskaf en wondsorg te reël vir diegene wat nie vervoer kan bekostig nadat hulle uit die hospitaal ontslaan is nie.
Die organisasie help ook met langtermynbehandeling soos terapie, mediese sorg en toerusting wat benodig word vir ernstige lewenslange beserings.

Jason word beskryf as 'n iemand wat altyd sal help. Foto verskaf
Sy beskryf Kilian nie net as ’n ondersteuner van die organisasie nie, maar meer soos familie. “Jason is al lank deel van die Hero Burn-reis. Sy verbintenis met die stigting loop diep, want hy verstaan dat dit nie net oor die fisieke wonde gaan nie, maar ook oor mense, waardigheid en die moeilike pad na herstel.
“Wat ek die meeste van hom waardeer, is sy opregte menslikheid; hy is die soort mens wat eerste uitreik en vra hoe hy kan help,” sê Du Plooy.
Kilian se ouers, seuns en die res van sy familie is dankbaar vir al die gebede, boodskappe en ondersteuning. “Dit beteken meer as wat ’n mens kan verwoord,” sê Du Plooy.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

