On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ses jaar later: Familie soek steeds na vermiste seun

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:24 Wed, 11 Mar 2026

Ses jaar later: Familie soek steeds na vermiste seun | News Article
Richard Gerhardus Schoeman. Foto verskaf

Meer as ses jaar het verloop, maar die vrae bly onbeantwoord vir ’n gesin van Mpumalanga wat aanhou soek, hoop en bid vir enige teken van hul vermiste seun.

Wat as ’n gewone oggend in Februarie 2020 begin het, het in ’n nimmereindigende nagmerrie ontaard. Daar is steeds geen teken van Richard Gerhardus Schoeman (toe 28), nadat hy sy ouerhuis in Witbank (eMalahleni) verlaat het sonder om vir iemand te sê waarheen hy op pad was nie. Hy het geen persoonlike besittings saamgeneem nie.

Schoeman het op Dinsdag, 11 Februarie 2020, sy ouers gegroet voordat hulle gaan kampeer het. Hy het vir sy ma gesê dat hy hulle die Saterdag weer sal sien om sy susterskind Shedey se verjaardag te vier, sê Demey Schoeman sr., sy ma.

“Net ’n paar dae later, op 14 Februarie, is hy hier weg, sonder om vir sy sussie, Demey jr., wat by die huis was en ook die laaste persoon wat hom gesien het, te sê waarheen.”

Richard en sy ma, Demey. Foto verskaf

Sedert sy verdwyning was daar nog geen bevestigde kontak van hom nie. Die familie het egter een moontlike leidraad ontvang kort nadat hy vermis geraak het. “ ’n Vrou het vir ons gesê sy het hom in Maart 2020 by hul besigheid in Witbank gesien, waar hy gevra het of hy ’n oproep kan maak. Hy het glo iemand gebel en vir geld gevra.”

Ten tyde van sy verdwyning het Schoeman swaargekry ná die dood van sy tannie. “Hy was nog besig (met) die rouproses nadat sy oorlede is. Sy drome en doelwitte was vir eers op die agtergrond,” sê Demey.

Daardie Desember, tien maande ná sy verdwyning, het sy ma sy Facebook-rekeninge besoek in die hoop om leidrade te vind. “Sedertdien gebruik ek sy Facebook om inligting oor sy vermistepersoonsaak te deel.”

Richard was baie lief vir musiek. Foto verskaf

Schoeman is op 20 Maart 1991 gebore en het in Witbank grootgeword. Hy word beskryf as ongeveer 1,7 m lank en weeg sowat 70 kg. Hy het bruin hare en groen oë. Ten tyde van sy verdwyning het hy blou jeans, ’n donkerblou T-hemp en ’n hoed gedra.

Sy ma beskryf hom as ’n liefdevolle en hulpvaardige mens wat ’n groot belangstelling in rekenaars en ’n passie vir musiek en liefdadigheidswerk gehad het. “Hy het ook liedjies vrygestel en daarvan gedroom om liefdadigheidsvertonings te doen.”

Schoeman het verskeie liedjies opgeneem, meestal gemengde Afrikaanse musiek, en van sy werk kan steeds op YouTube gevind word.

Richard by sy ma en sussie. Foto verskaf

Vir die familie is die jare sonder antwoorde verwoestend. Schoeman se verdwyning is by die polisie aangemeld, maar die ondersoek is intussen laat vaar. “Dit voel leeg en jy bevraagteken alles,” sê Demey.

Ten spyte van die pyn en onsekerheid, vra die familie steeds die publiek om hulle te help om aan te hou soek.

“Help asseblief kyk – links, regs, voor, agter. Sien julle hom? As iemand inligting het, kontak asseblief die polisie of whatsapp my (Demey) 079 514 0211.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.