On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vier van Klerksdorp sterf: Beskuldigde se regsman daag nie op

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:35 Thu, 12 Mar 2026

Vier van Klerksdorp sterf: Beskuldigde se regsman daag nie op | News Article
Dié vier jong mense het in ’n ongeluk gesterf. Foto’s verskaf

Die saak van die Noordwes-prokureur wat daarvan beskuldig word dat hy verantwoordelik is vir die dood van vier jong mense, is uitgestel nadat sy prokureur nie by die hof was nie.

Edward Letsie (34), ’n gewese prokureur, sou Woensdag (11/3) in die Klerksdorpse landdroshof voorgekom het. Weens sy prokureur se afwesigheid het hy self die uitstel versoek. 

Hy staan tereg op vier aanklagte van strafbare manslag in verband met die dood van Ruan Esterhuizen (21), sy meisie, Jackie Willis (21), sy beste vriend, Max Knott-Craig (22), en Jané Janse van Rensburg (19).

Volgens ’n hofkommunikasie het Letsie die hof in kennis gestel sy prokureur is van voorneme om formeel vertoë aan die aanklaer te rig oor vertragings in die vervolging. Die saak hervat na verwagting op 18 Maart in die streekshof nadat die beskuldigde op 23 Januarie die eerste keer verskyn het. 

Die vier vriende het omstreeks 19:00 op13 Oktober 2024 in ’n botsing op die kruising van die N12 en Plataanlaan gesterf. 

Jackie Willis. Foto verskaf

Hulle was van die Matlosana-winkelsentrum af op pad huis toe ná ’n dag saam by die dam. Toe hulle regs gedraai het by die verkeerslig het die bestuurder van ’n Mercedes-Benz, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, in hulle vasgery.

Esterhuizen, Willis en Janse van Rensburg is op slag dood. Knott-Craig het ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Luidens gerugte het die Mercedes-Benz-bestuurder hom uit die voete gemaak en die voertuig agtergelaat. Hy het hom twee dae later aan die polisie oorgegee, sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Hollie Janse van Rensburg se wêreld het kort voor 19:45 daardie Vrydagaand in duie gestort toe sy hoor haar dogter was in ’n ernstige ongeluk. Sy het Jané op die toneel uitgeken deur onderskeidende kenmerke en juweliersware, insluitend ’n engelvlerkhangertjie wat Hollie vir haar gegeehet.

Ruan Esterhuizen. Foto verskaf

Omstreeks dieselfde tyd het Cherice Grobler die tyding gekry dat haar broer, Ruan, ook in ’n ongeluk was. Albei families beskryf die slagoffers as jong mense vol drome en planne wie se lewe kortgeknip is.

Max het Jané ure voor die ongeluk gevra om sy meisie te wees, terwyl Ruan en Jackie beplan het om op 2 Februarie 2025 verloof te raak. 

“Wat bygedra het tot die hartseer, was die feit dat daar ’n volle jaar ná die ongeluk steeds geen inhegtenisneming en geen aanklagte aanhangig gemaak is nie,” sê Cherice.

Albei families sê kommunikasie van die polisie was minimaal, wat hulle laat voel hulle word nie ondersteun nie en in die duister gelaat oor die vordering van die ondersoek.

Jané Janse van Rensburg met die engelvlerkhangertjie. Foto verskaf

“Ons het herhaaldelik opdaterings gevra,” sê Cherice. ”Ons wag steeds op antwoorde oor wat presies daardie aand gebeur het en waarom geregtigheid so lank geneem het.”

Hollie beskryf die afwesigheid van terugvoer as een van die pynlikste aspekte van die afgelope jaar. “Dit voel asof hul lewe nie genoeg saakgemaak het vir dringendheid nie.” Vir haar sal die lewe nooit weer dieselfde wees nie. “Die mense wat ons voor die ongeluk was, is nou vreemdelinge vir ons.” 

Ná maande se gewag het die naasbestaandes besluit om hul stem te laat hoor. Hulle het ’n Justice Ride en vreedsame optog gehou om die tragedie te herdenk en verantwoording te eis. 

Die optog was nie net vir Ruan, Jackie, Max en Jané nie, maar ook vir ander gesinne wat voel dat geregtigheid vertraag word.

Max Knott-Craig. Foto verskaf

“Ons hart pyn steeds, maar ons stilte het in vasbeslotenheid verander,” sê Cherice. 

Die families sê die ongeluk het hulle verpletter. Die ongeluk “het nie net vier lewens daardie nag geneem nie. (Dit) het vier gesinne se lewe verwoes. Ons sal nie ophou totdat geregtigheid geskied nie.”

  • Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

OFM Nuus/Charne van derMerwe

 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.