Central SA
Vrou verskyn in Kathu-hof oor sakebedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:56 Thu, 12 Mar 2026
’n Noord-Kapenaar, wat na bewering haar persoonlike bankrekening gekoppel het aan betalings wat vir haar werkgewer bestem was, se saak hervat in Junie in ’n hoër hof.
Amy Mellisa van Heerden (30) het Woensdag (11/3) in die landdroshof op Kathu verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal. Die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad het haar op 26 Februarie in hegtenis geneem.
Sy het glo as ’n werknemer van Nashua Kathu opgetree en, sonder magtiging, haar werkgewer se bankbesonderhede na haar eie persoonlike bankrekening verander, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Noord-Kaapse Valke-woordvoerder.
“Nashua het ’n verlies van meer as R1 miljoen gely nadat geld wat aan die maatskappy verskuldig was, in haar rekening inbetaal is,” sê Thebe. Sy is op borgtog van R10 000 vrygelaat. “Die saak sal na verwagting na die streekshof oorgeplaas word.”
Nog twee in hof
Intussen verskyn twee ander mense van die Noord-Kaap na verwagting op 17 Maart in die hof nadat hulle na bewering betrokke was by ’n skema wat daartoe gelei het dat ’n munisipaliteit meer as R1 miljoen verloor het.
Annelie (52) en Jonathan Swartz (59) het op Woensdag 18 Februarie in die landdroshof op Kakamas verskyn op aanklagte van diefstal en geldwassery.
Die mede-eienaars van Annie’s Building Supplies is op dieselfde dag as wat hulle in die hof verskyn het, deur die Valke in hegtenis geneem, sê ao. Nomthandazo Mnisi, provinsiale Valke-woordvoerder.
Water en elektrisiteit
“Daar word beweer dat die beskuldigdes in 2020 ’n ooreenkoms met die Kai!Garib-munisipaliteit aangegaan het om water en elektrisiteit namens die munisipaliteit te verkoop,” sê Mnisi. Die ooreenkoms het vereis dat alle geld wat so ingevorder is, na die munisipaliteit se bankrekening oorgeplaas word.
Die beskuldigdes het na bewering slegs twee maande lank by die ooreenkoms gehou voordat hulle opgehou het om die geld oor te dra. Die munisipaliteit het blykbaar ’n verlies van R1,2 miljoen gely.
Hulle is vrygelaat op borgtog van R5 000 elk.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

