On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

SA werklikheidsterre agter tralies in VSA oor beweerde winkeldiefstal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:44 Thu, 12 Mar 2026

SA werklikheidsterre agter tralies in VSA oor beweerde winkeldiefstal | News Article
Peet en Melany (Mel) Viljoen. Foto CBS12.com

’n Omstrede Suid-Afrikaanse glanspaar se borgtog is vasgestel op meer as R160 000 elk nadat hulle in die VSA aangekla is van duisende rande se winkeldiefstal.

Peet en Melany (Mel) Viljoen van The Real Housewives of Pretoria-faam is Dinsdag (5/3) in Florida in hegtenis geneem. Die paartjie word daarvan beskuldig dat hulle oor ’n tydperk van ses maande byna $5 300 (R87 729,04) uit ’n plaaslike supermark gesteel het.

Local10.com berig die paartjie is na die West Palm Beach-aanhoudingsentrum geneem en word in die gesig gestaar deur aanklagte van georganiseerde winkeldiefstal.

Van die produkte wat na bewering gesteel is, is duur vonkelwyn, suikervrye gaskoeldrank, gegeurde vonkelmineraalwater, toiletpapier, vars produkte en ander kruideniersware. Net vir enkele artikels is glo betaal. Transaksiedata dui daarop dat altesaam 392 artikels nie geskandeer is nie.


Die paartjie is deur die plaaslike Boca Raton-polisie by ’n padblokkade in hul swart Range Rover voorgekeer. Publix CCTV-beeldmateriaal wys na bewering hoe die paartjie ’n slenter tussen Augustus en vandeesmaand gebruik. 

Hulle het glo staafkodes vir goedkoper artikels skandeer in plaas van die duurder produkte wat hulle eintlik geneem het. Hierdie taktiek is glo 52 keer gebruik, berig CBS12.com.

Hulle word na bewering ook op beeldmateriaal gesien waar hulle die winkel verlaat met volgelaaide inkopiemandjies sonder om vir alles te betaal.

Peet en Mel. Foto: Mel Viljoen Instagram

Wetstoepassers beweer voorts Peet en Mel het saamgewerk: Hy sou glo die winkelpersoneel se aandag afgelei terwyl Mel die diefstalle uitvoer. Polisie sê die paartjie het erken hulle is die persone wat op die beeldmateriaal gesien word.

Mel het glo aan beamptes gesê sy het alleen opgetree ter wille van oorlewing omdat sy nie ’n Amerikaanse werkvisum het nie. 

Sy het beweer Peet het haar nie gehelp nie. Ondersoekers sê hierdie stelling weerspreek die bewyse, aangesien Peet ook duidelik in die beeldmateriaal gesien kan word.

Peet en Mel. Foto: Mel Viljoen Instagram

Die Viljoens het in Julie 2025 na die VSA verhuis, waar hulle na bewering gehoop het om ’n “nuwe lewe” in Miami te begin.

Peet, ’n prokureur wat van die rol geskrap is en wat van voorneme was om weer te begin praktiseer, ontken al die bewerings teen hulle.

Bronne: Local10.com, CBS12.com

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus sm


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.