On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Brandslagoffers-insameling: Motorfietsryer kritiek, vriend ry laaste ent

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:55 Thu, 12 Mar 2026

Brandslagoffers-insameling: Motorfietsryer kritiek, vriend ry laaste ent | News Article
Jason het die reis aangepak vir brandslagoffers. Foto verskaf

’n Vriend van die motorfietsryer, wat ernstig beseer is in ’n ongeluk nadat hy duisende kilometers vir brandslagoffers afgelê het, sal die rit namens hom voltooi.

Kilian, die stigter van Modderbok Adventures, is in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Hy was Saterdag (7/3) omstreeks 11:40 in ’n motorfietsongeluk naby Carnarvon in die Noord-Kaap, net 650 km voor sy eindbestemming, Stellenbosch.

Die weldoener het Donderdag (5/3) The Epic Ride aangepak met ’n doelwit om 3 000 myl (sowat 4 800 km) oor drie dae agtereenvolgens  af te lê en R250 000 vir die Hero Burn Foundation in te samel. Die organisasie ondersteun brandslagoffers en hul naasbestaandes landwyd.

Sy vriend Jaco Prinsloo, eienaar van Motorcycle Tours Africa, het besluit om die laaste deel van die rit namens Kilian te voltooi.


Prinsloo het Donderdag (12/3) van Melkbosstrand na Carnarvon vertrek. Hy sal Vrydag omstreeks 11:30 verder ry en op Stellenbosch by die Hidden Valley-wynplaas eindig. Dit is waar Kilian sou klaargemaak het, sê Annerie du Plooy, stigter van die Hero Burn Foundation en ’n vriendin.

Kilian is ná die ongeluk per helikopter na ’n hospitaal geneem vir spesialisbehandeling, waar hy in kritieke maar stabiele toestand verkeer. Hy het Woensdag ’n ingewikkelde nekoperasie in Kimberley ondergaan. MRI-skanderings het Dinsdag gedui op frakture aan Kilian se C6- en C7-werwels, sê Du Plooy. Sy rugmurg is ongeskonde, maar dringende chirurgie was nodig om druk te verlig.

Jaco Prinsloo wil The Epic Ride voltooi. Foto verskaf

“Volgens die dokters was die operasie suksesvol, hoewel tegnies uitdagend as gevolg van die lae ligging van die besering in sy nek. Hy is steeds onder sedasie, met dokters wat hom noukeurig monitor. 

“Die plan is om hom geleidelik oor ongeveer twee dae wakker te maak, terwyl sy toestand voortdurend geassesseer word,” volgens Du Plooy. “ ’n Gespanne wagtydperk lê vir almal voor wat Kilian versorg.”


Die dokters het verduidelik sy nek moet gestabiliseer word en die frakture moet vasgemaak word om verdere skade te voorkom. “Die feit dat sy rugmurg ongeskonde is, gee ons groot hoop,” sê Du Plooy. “Die omvang van die kopbesering is egter nog nie ten volle bekend nie, en die dokters het geduld aangeraai terwyl hulle voortgaan om hom te monitor en te assesseer.”

Prinsloo sê hy wil The Epic Ride voltooi, nie net vir Kilian nie, maar ook vir die saak waarvoor hy gery het: Bewusmaking oor brandslagoffers en hul families, iets wat die Hero Burn Foundation ondersteun.

Jason word beskryf as iemand wat altyd sal help. Foto verskaf

“Jason is ’n goeie vriend van my. Hy is ’n legende in my oë, iemand na wie ek opsien. Sterkte met jou herstel. Ons sal die wiele aan die rol hou vir jou. Ek sal die reis voltooi, en ons sal jou sien wanneer jy wakker word,” sê Prinsloo.

Du Plooy sê baie brandslagoffers bring maande of selfs jare in die hospitaal deur. “Dit is van kardinale belang dat hulle direkte kontak met hul families behou, aangesien daardie ondersteuning noodsaaklik is vir die genesingsproses. 

“Die pad na herstel vir hierdie pasiënte is dikwels eensaam en peperduur. Mediese koste kan wissel van R20 000 tot R2 miljoen. Brandwonde is lewenslank, en gaan nie net weg ná ’n jaar of twee nie.”

Jason Kilian het sy uitdagende tog so hittete voltooi. Foto verskaf

Arbeidsterapie, fisioterapie en kompressieklere is dikwels nodig om pasiënte te help om weer in die samelewing te integreer. Du Plooy sê geld word gebruik om pasiënte te help om in verbinding te bly met geliefdes, toiletware te verskaf en wondsorg te reël vir diegene wat nie vervoer kan bekostig ná ontslag uit die hospitaal nie.

Die organisasie ondersteun ook langtermynbehandeling, waaronder terapie, voortgesette mediese sorg en toerusting wat benodig word vir ernstige, lewenslange beserings.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.