Central SA
Vrystaatse man vra gebed ná 23ste operasie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:06 Fri, 13 Mar 2026
Gebede word versoek vir ’n Vrystater, nadat hy sepsis tydens ’n roetine-operasie opgedoen het.
Hoewel Charlie Niemann (56) Dinsdag (10/3) sy 23ste operasie ondergaan het, kon dokters slegs ’n gedeelte van die prosedure voltooi. Die operasie sou Vrydag of Saterdag voortgegaan het, maar weens komplikasies moes dit onbepaald uitgestel word.
Niemann, ’n motorverkoper van Virginia, het in Oktober ’n operasie in ’n plaaslike privaat hospitaal ondergaan om ’n breuk in sy buik te herstel. Hy het egter sepsis ontwikkel en het sedertdien verskeie lewensbedreigende operasies gekry, sê Chantelle van der Berg van Hands of Grace, ’n organisasie sonder winsoogmerk op Virginia.

Desire en Charlie Niemann. Foto verskaf
Hy is na die Busamed-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas nadat sy toestand versleg het, waar hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.
In die laaste operasie is Niemann se ingewande herbou en weer geheg sodat die dreinering verwyder kon word en die buikwond eindelik toegewerk kon word, sê Van der Berg. ’n Week vantevore is membrane en vergroeiings tydens ’n gastroskopie herstel. Sy buik is ook gespoel en weer skoongemaak.

Charlie is tans onder sedasie. Foto verskaf
“Charlie is Donderdag (12/3) onder sedasie geplaas om die intense pyn te verlig en sy liggaam tyd te gee om te rus. Dit was ’n moeilike besluit, maar is noodsaaklik sodat sy liggaam kan herstel en krag kan bymekaarmaak vir die volgende stap.”
Niemann het ook nierversaking en moet gereeld dialise ondergaan.
Volgens Van der Berg is dit ’n uiters moeilike tyd vir die familie, en die hele situasie plaas ook ’n groot finansiële druk op hulle. “Enigiemand wat kan bydra, sal ongelooflik waardeer word.”

Charlie het al 23 operasies ondergaan. Foto verskaf
As jy ’n bydrae wil maak, kan jy Van der Berg bel by 062 596 9776 of die Hands of Grace Facebook-blad besoek.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

