Central SA
AfriForum vra hof moet verkoop van ikoniese Bloemfontein-eiendomme keer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:12 Fri, 13 Mar 2026
’n Burgerregteorganisasie het ’n hofaansoek ingedien teen ’n Vrystaatse munisipaliteit om te bepaal of die voorgestelde verkoop van munisipale eiendomme mag voortgaan.
AfriForum se takke in Bloemfontein het Woensdag (12/3) die aansoek teen Mangaung-metro ingedien teen die verkoop en beoogde vervreemding van verskeie munisipale eiendomme. Dit sluit in die Tempe-lughawe en die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill, sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder.
Die staking van die proses word versoek sodat die verkoop of verhuring van hierdie eiendomme nie plaas mag vind sonder om die regte prosesse te volg nie. Die organisasie meen die metro se besluit om die eiendomme te vervreem is onverskillig en moontlik teenstrydig met die wet en die beginsels van verantwoordelike openbare bestuur en deursigtigheid.

Die eiendomme behoort aan die gemeenskap. Foto: bloemfonteintourism
Groenewald sê hoewel die metro slegs 14 projekte in sy openbare kennisgewing gelys het, sluit hierdie projekte in der waarheid 153 individuele erwe in dwarsoor die metro. AfriForum meen hierdie grootskaalse vervreemding hou verreikende gevolge in vir stadsbeplanning, omgewingsbewaring en openbare toegang tot strategiese grond.
“Hierdie eiendomme behoort aan die gemeenskap, nie aan die politieke elite wat dit agter geslote deure wil verhandel nie. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat strategiese en historiese grondgebied, soos die Tempe-lughawe en Naval Hill, sonder behoorlike openbare deelname en deursigtigheid vervreem word nie,” sê hy.

’n Kameelperdbul wat vroeër op Naval Hill gehou het. Foto: Morgan Piek
AfriForum het op 23 Oktober in ’n formele brief van beswaar gemaak by Mangaung-metro en versoek is dat die proses onmiddellik gestaak word tot behoorlike oorlegpleging met die publiek plaasgevind het, sê Groenewald.
Van talle pogings om met die metro in gesprek te tree en duidelikheid oor die proses te kry, het tot dusver dadels gekom. “Hierdie gebrek aan deursigtigheid laat ons met geen ander keuse as om die saak deur die howe te laat beslis nie.”
Met die hofaansoek wil AfriForum toesien dat Mangaung sy wetlike verpligtinge nakom ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

