Central SA
Wateronderbrekings tref Mangaung─── REFILWE BEKANE 13:00 Fri, 13 Mar 2026
Verskeie woonbuurte oor Bloemfontein heen gaan gebuk onder wateruitdagings, sê die Mangaung-metro.
Inwoners kan verwag om óf heeltemal sonder water te wees, óf baie lae waterdruk te ervaar. Die hoofoorsaak hiervan is die watervloei deur die grootmaatstelsel het verminder, volgens die metro.
Vanaf Vrydag (13/3) het die metro se tegniese spanne begin met dringende strategiese aanpassings aan die breë waternetwerk. Hierdie operasionele veranderinge is noodsaaklik om die stelsel te bestuur, maar dit beteken ongelukkig verskeie woonbuurte in Bloemfontein sal direk geraak word.

Daar is nog geen aanduiding wanneer die waterdruk weer normaal sal wees nie. Foto: Manguang- tegniese dienste
Die metor bevestig hy gaan die pyplyn-vertakking na Dewetsdorp en Wepener tydelik toemaak. Deur die pyplyn toe te maak kan die spanne daarop fokus om die res van die stad se opgaardamme weer vol te kry.
Die metro verduidelik hierdie stappe is nodig om die hele waternetwerk te stabiliseer. Sodoende kan die watervlakke in die groot opgaardamme herstel word sodat die hele netwerk weer reg kan werk.
Inwoners word gevra om spaarsaam met water te werk sodat die reservoirs vinniger kan vol word. “Hierdie aanpassings is nodig om die netwerk te stabiliseer. Ons vra om verskoning vir die ongerief.”
Daar is nog geen tyd gegee oor wanneer die waterdruk weer normaal sal wees nie. Die situasie word deurlopend gemonitor.

Inwoners kan geen water of baie lae waterdruk ervaar. Foto: Freepik
Centlec-projekte
’n Algemene amnestieprogram van 60 dae is steeds by Centlec-projekte aan die gang. Hierdie inisiatief bring verligting vir kliënte wat betrokke is by onwettige elektrisiteitsverbinding, peuter met meters, of die ongemagtigde verwydering van meterbokse.
Die amnestie bepaal kliënte wat voorheen elektrisiteit gesteel of infrastruktuur omseil het, kan van hul gepaardgaande boetes en skuld kwytgeskeld word.
Amptelike verklarings
Inwoners word aangemoedig om die Centlec-kantore te besoek om amptelike verklarings- en magtigingsvorms in te vul wat die nutsmaatskappy toelaat om meterfoute of netwerkfoute reg te stel.
Aansoekers moet ’n identiteitsdokument en, indien beskikbaar, bewys van verblyf of huiseienaarskap voorlê. Daarbenewens moet enige vorige boetes of kwotasies wat verband hou met onwettige aktiwiteite ingedien word, hoewel dit nie verpligtend is vir die aansoek nie.
Die verwerkingstydperk vir die amnestieaansoek is vyf dae. Sodra dit goedgekeur is, word alle verwante boetes geskrap. Die metro waarsku egter hierdie grasietydperk is tydelik.
Enigiemand wat met elektrisiteitsinfrastruktuur peuter of onwettige konneksies behou nadat die 60-dae-tydperk verstryk het, kan strafregtelik vervolg word.
Centlec vra alle kwalifiserende kliënte om hierdie geleentheid te gebruik om hul rekeninge reg te stel. Vir meer inligting oor die amnestie bel 051 409 2334.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg

