Central SA
Bloemfonteinse optrede: Mezzosopraan sing al van vier af─── MORNÉ VAN ROOYEN 13:51 Mon, 16 Mar 2026
Is opera sing ’n roeping, net ’n beroep of hoe besluit iemand om dié vermoeiende en mededingende veld te betree?
’n Gebore Bulgaarse mezzosopraan, wat in 1992 na Suid-Afrika verhuis het en nou as sanglektrise aan die Universiteit van Kaapstad se Musiekkollege help om ’n nuwe geslag sangers te berei vir die wêreldverhoog, vertel in haar geval het dit “net gebeur”.
Violina Anguelov het Bloemfonteiners Saterdag (14/3) in die Odeion meegevoer met haar vertolking van die Franse komponis Hector Berlioz se liedsiklus Les Nuits d’été (‘Somernagte’), gegrond op ses gedigte van Théophile Gautier wat die verloop van die liefde verken van onskuld tot verlies en eindelik herlewing.
Berlioz se aanvanklike werk met klavierbegeleiding het misluk, maar die weergawe met orkesbegeleiding, die eerste sodanige liedsiklus, word van toe af wêreldwyd met welslae opgevoer. Saterdagaand se uitvoering was deel van ’n program van die Vrystaatse Simfonieorkes wat ook ’n werk van Ravel en Beethoven se Derde Simfonie ingesluit het.
“My ma sê ek het begin sing nog voor ek kon praat,” vertel Anguelov oor hoe sy in die operawêreld beland het. “Ek onthou nog goed – ek moes vier of vyf gewees het – hoe ons die dorpie (in Bulgarye) besoek het waar my oupa en ouma gewoon het. Hulle het ’n lieflike balkon in hul huis gehad.
“Ek sou daar staan en ’n opera opmaak. Destyds het ek nog nie na ’n opera geluister of gesien nie, maar ek het dit opgevoer en geluide maak. Ek moes dit seker oor die radio gehoor het … En ek sou hierdie interessante stories uitdink.”
Nadat sy kleintyd in ’n koor gesing het, het sy op 18 met sanglesse begin. “Ek sing dus al my hele lewe lank. In Bulgarye is ek aangemoedig om sang te studeer, wat ek ook gedoen het.”

Violina Anguelov het in die Odeion op die UV-kampus opgetree. Foto: Morné van Rooyen
Anguelov het egter nie haar sangstudie in haar geboorteland voltooi nie, omdat sy en haar man in 1992 na Suid-Afrika uitgewyk het. In Kaapstad het sy haar studie aan die SA Musiekkollege voortgesit en intussen haar stem ál meer ontwikkel.
“Ek het geleer oor sang en die teks en hoe alles werk uit ’n dramatiese oogpunt. So ek is as ’t ware gelei in ’n rigting sonder dat ek ooit doelbewus besluit het om ’n operasangeres te word. Ek was lief daarvoor om te sing, maar ek het nooit kon dink dit sou ’n loopbaan word nie.”
Die deurbraak het gekom tot prof. Angelo Gobbato, direkteur van die operaskool, haar plek gegee het in Kaapse Opera se program vir jong kunstenaars. “Van daar af het alles net ontwikkel. Soms voel dit asof ek van my baie nederige tuiste in Bulgarye geneem is en op die verhoog geplaas is.

Die besoekende Japannese dirigent Yasuo Shinozaki dirigeer die uitvoering van Berlioz se Les Nuits d’été met die mezzosopraan Violina Anguelov in die Odeion. Foto: Morné van Rooyen
“Tussendeur was daar die werk en studeer – en altyd die dryfkrag. Iets het my aangespoor om myself te verbeter en die beste te wees wat ek kan. Natuurlik was my sangonderwyseres, wyle Surita Stern, so ’n inspirasie in vele opsigte en uiters streng.”
Stern het haar aangeraai om haarself te ontwikkel so goed sy kon, waarna dinge sou gebeur. “En dit het. Ek het byvoorbeeld nog nooit gedink ek moet goed sing omdat ek op ’n groot verhoog is nie. Ek het nog altyd gereken: Ek moet goed sing. Punt. Hetsy twee of 2 miljoen mense luister.”
Opera is vir haar ’n geliefde medium: die drama, die wonderlike musiek … alles wat met opera te make het, soos die opvoering, die kostuums, beligting, atmosfeer en die werk wat dit verg om op die planke te bring.
‘Ek het nie geweet ek sou dit eendag doen óf wat ek tot nou toe sou doen nie’
Anguelov vertel die voorbereiding is trouens vir haar lekkerder as die opvoering self. “Ja, die optrede is fantasties en die gehoor wat dit geniet, maar die werk wat dit vooraf verg, is vir my die mees magiese aspek daarvan.”
Het sy dus ooit geroepe gevoel om ’n operasangeres te word? “Kortom, ek het nie geweet ek sou dit eendag doen óf wat ek tot nou toe sou doen nie. Dis nie hoe ek dit voorsien het nie. Maar ek is dankbaar dat dit wel so gebeur het.”
Sy meen dis belangrik om aan te hou sing solank jy kan. “Ek glo as jy eers ophou sing, is dit neusie verby, en ek wil nog nie hê dit moet die einde wees nie.”

