On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Brandslagoffers-insameling: Beseerde motorfietsryer toon tekens van verbetering

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:07 Tue, 17 Mar 2026

Brandslagoffers-insameling: Beseerde motorfietsryer toon tekens van verbetering | News Article
Jason Kilian toon tekens van verbetering. Foto verskaf

’n Groot deurbraak in die herstel van die motorfietsryer, wat in ’n kritieke toestand tydens ’n geldinsamelingsrit in die hospitaal opgeneem is, bring hoop vir sy familie en vriende nadat sy lugpyp suksesvol uitgehaal is.

Die prosedure is Maandagaand (16/3) met minimale komplikasies voltooi, en Jason Kilian haal nou onafhanklik asem met laevloei-suurstofondersteuning. Sy suurstofbehoefte is verminder tot 28%, sy suurstofversadiging is op 95% en sy hartklop is stabiel op 88, sê Annerie du Plooy, stigter van die Hero Burn Foundation en ’n goeie vriendin.

“Sy toestand bly stabiel, hoewel hy steeds in die intensiewesorgeenheid is. Dokters hou sy kopbesering steeds noukeurig dop en het aangedui dat sy herstel tyd sal neem.”

Kilian, die stigter van Modderbok Adventures, het Donderdag 5 Maart The Epic Ride aangepak met ’n doelwit om 3 000 myl (4 800 km) oor drie dae agtereenvolgens af te lê en R250 000 vir die Hero Burn Foundation in te samel. Die organisasie ondersteun brandslagoffers en hul naasbestaandes landwyd.

Jason Kilian. Foto verskaf

Hy was egter twee dae later omstreeks 11:40 betrokke in ’n motorfietsongeluk naby Carnarvon in die Noord-Kaap, slegs 650 km vanaf sy eindbestemming, Stellenbosch.

Jaco Prinsloo, eienaar van Motorcycle Tours Africa, het die laaste deel van die Epic Ride suksesvol voltooi en die merkwaardige reis tot sy beoogde eindpunt by Kapstadt Brauhaus op Stellenbosch gebring. Hy het Vrydag (13/3) aangekom.

“Jason is ’n goeie vriend van my. Hy is ’n legende in my oë, iemand na wie ek opkyk. Sterkte met jou herstel. Ons sal die wiele vir jou aan die rol hou. Ek sal die reis voltooi, en ons sal jou sien wanneer jy wakker word,” het Prinsloo vroeër gesê.


Volgens Du Plooy het Kilian Sondag (15/3) gereageer toe sy naam genoem is en sy oë af en toe oopgemaak tussen 01:00 en 02:45. “Sy bloeddruk was effens hoog en dokters het besluit om bykomende medikasie toe te dien om dit onder beheer te bring.”

Kilian is ná die ongeluk per helikopter na ’n hospitaal geneem vir spesialisbehandeling, waar hy in kritieke maar stabiele toestand verkeer. Hy het intussen ’n ingewikkelde nekoperasie in Kimberley ondergaan. MRI-skanderings dui frakture aan Kilian se C6- en C7-werwel. Sy rugmurg is ongeskonde, maar dringende chirurgie was nodig om druk te verlig.

“Die plan is om hom geleidelik oor ongeveer twee dae wakker te maak, terwyl sy toestand voortdurend geassesseer word,” sê Du Plooy. “ ’n Gespanne wagtydperk lê vir almal voor wat Kilian versorg.”

Jason Kilian was op 'n geldinsamelingsrit vir brandslagoffers. Foto verskaf

Die Hero Burn Foundation, waarvoor Jason die rit onderneem het, ondersteun steeds brandoorlewendes en hul families landwyd. Volgens stigter Annerie du Plooy bring baie pasiënte maande of selfs jare in die hospitaal deur, dikwels met lang, duur en emosioneel uitdagende herstel.

Geld wat ingesamel word, word gebruik om pasiënte te help om in verbinding te bly met hul geliefdes, noodsaaklike sorgitems te verskaf en langtermynbehandeling, terapie en rehabilitasie te ondersteun.

’n Geldinsameling is intussen vir Kilan begin.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.