On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Rit vir geregtigheid bring nuwe hoop vir Dylan Bothma-saak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:16 Wed, 18 Mar 2026

Rit vir geregtigheid bring nuwe hoop vir Dylan Bothma-saak | News Article
Dylan Bothma. Foto verskaf

’n Rit vir geregtigheid vind binnekort plaas terwyl familie en vriende steeds antwoorde soek ná die raaiselagtige dood van ’n jong man.

Dylan Bothma (18), van Heidelberg, Gauteng, het op 23 Julie 2023 ’n tienerpartytjie bygewoon. Hy is die volgende dag in ’n hospitaal in Alberton gevind, maar het later aan sy beserings beswyk.

Uit die staanspoor was die omstandighede rondom Dylan se dood vir sy ouers, Elsie en Daniël Bothma, verdag. Eers is gesê Dylan het in ’n tref-en-trap-ongeluk gesterf. 

Inligting wat later deur sy ma by mense wat self die partytjie bygewoon het, verkry is, dui egter op ’n veel ontstellender toedrag van sake. Dylan is na bewering op die partytjie aangerand en toe in die pad gelaat, waar ’n bakkie hom getref het.

“Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek gedoen, maar dit is sedertdien verander na ’n saak van strafbare manslag, wat beteken dat iemand verantwoordelik is vir sy dood,” sê Elsie.

Dylan word beskryf as 'n liefdevolle sagte persoon. Foto verskaf

Dylan se pa, Daniël, het hom omstreeks 17:30 by die partytjie op Heidelberg afgelaai. Hulle het gereël dat Dylan hom om 20:00 sou bel om te bevestig of hy langer wou bly of opgetel wou word, maar geen oproep is ontvang nie. Daniël het egter, soos gereël, om 21:00 na die partytjie teruggekeer om hom te haal.

Met sy aankoms is hy meegedeel dat Dylan reeds te voet daar weg is. Daniël het dadelik vir Elsie gekontak, en hulle het na hul seun begin soek. In ’n poging om hom op te spoor, het Elsie ’n buurtnoodgroep gekontak, Dylan se foto gedeel en gevra of iemand hom gesien het.

Dis toe dat hulle van ’n tref-en-trap-voorval vroeër die aand te hore kom. Elsie vertel hulle het van hospitaal na hospitaal gery op soek na Dylan, maar sonder sukses. Hulle het toe na die polisiekantoor gegaan, waar die beampte aan diens Elsie gevra het om Dylan se persoonlike besittings te eien.

Nadat bevestig is dat Dylan by die ongeluk betrokke was, is hulle in kennis gestel dat hy na die Life Suikerbosrand-hospitaal geneem is. Met hul aankoms was mediese personeel besig om Dylan in die ambulans na die Netcare Alberton-hospitaal te neem weens die erns van sy beserings.

Niemand is nog aangekeer weens Dylan se dood nie. Foto verskaf

Volgens Elsie het dokters, hoewel hulle nie Dylan se aankoms verwag het nie, vinnig opgetree om hom te help. “Net ná 04:00 het die dokters vir ons gesê hulle sukkel om hom te stabiliseer. Die bloeding was te erg.”

Terwyl hulle met die dokter gepraat het, het ’n verpleegster die kamer binnegekom en gesê Dylan se hart het gaan staan. “Dit was die laaste keer dat ek my seun gesien het,” sê ’n gebroke Elsie.

In die maande sedert sy dood, vertel sy, het sy dit op haarself geneem om uit te pluis wat daardie nag gebeur het. Sy beweer minderjariges op die partytjie het vir Dylan dwelms in die vorm van ’n daggakoekie aangebied en daar was ook drank beskikbaar. Dylan het glo die helfte van die koekie geëet nadat druk op hom geplaas is.

In ’n stadium het hy op ’n plastiekstoel gesit wat onder hom gebreek het. Ooggetuies beweer ’n volwasse man het hom toe in die gesig geslaan. Volgens Elsie het Dylan die partytjie verlaat, maar later teruggekeer vir sy baadjie en selfoon wat hy agtergelaat het.

Dylan op sy matriekafskeid. Foto verskaf

Dit was toe, volgens die inligting wat ingesamel is, dat hy weer aangerand is. “Hierdie keer deur ’n groep jong mans. Hy het te voet gevlug, maar is na bewering deur sy aanvallers met ’n bakkie en ’n motorfiets agternagesit.”

Hoewel hy aanvanklik daarin geslaag het om weg hardloop, is hy glo gevang en weer aangerand. Dylan het toe gevlug. Sy ma vermoed hy het oor ’n pad gehardloop, waar hy deur ’n bakkie van ’n plaaslike insleepdiens getref is.

Die bestuurder, saam met die beweerde aanvallers, het na bewering van die toneel gevlug en hom ernstig beseer in die pad gelaat. ’n Tweede voertuig, wie se bestuurder hom moontlik nie gesien het nie, het oor hom gery. Nooddienste is eindelik ontbied, en Dylan is na die hospitaal geneem.

Sedert daardie nag soek sy familie antwoorde en sal hulle nie opgehou veg vir geregtigheid nie.

Die Bothma-gesin. Foto verskaf

Van die begin af het hulle probeer om die waarheid te ontbloot, inligting in te win en diegene op te spoor wat op die toneel teenwoordig was. “Ons het kontaknommers gekry en getuies geïdentifiseer, vasbeslote om presies wat gebeur het, saam te stel. Dit was nie ’n tref-en-trap nie, dit is moord.”

Elsie beweer die polisie was sedert daardie noodlottige aand onbehulpsaam. Sy glo daar was nalatigheid in hoe die situasie hanteer is, veral in daardie kritieke vroeë ure. “As die polisie daardie aand hul werk gedoen het, sou mense ondervra gewees het en kon arrestasies gemaak gewees het.”

Volgens haar is die man wat getuies beweer Dylan geslaan het, nie vir ondervraging ingeneem nie. “Ons het die polisie van bewyse voorsien, insluitend beeldmateriaal en ander ondersteunende materiaal, maar niks word gedoen nie.”

Dylan het die buite lewe geniet. Foto verskaf

Die emosionele tol was enorm. Elsie sê die familie “gaan deur hel” terwyl hulle steeds na antwoorde te soek. Die beserings wat gedokumenteer is, stem ook nie ooreen met die weergawe van die gebeure wat aangebied is nie.

In hul soeke na aanspreeklikheid het die familie ook ’n kommissie in Johannesburg genader in die hoop op hulp en antwoorde. Hulle is glo meegedeel dat die saak aandag sou gekry het, veral ná ontwikkelinge in Augustus toe ’n nuwe ondersoekbeampte aangestel is. Tog is daar steeds geen vordering nie.

Sy het ook skok uitgespreek oor bewerings wat die ronde doen dat haar seun sy eie lewe geneem het – iets wat sy ten sterkste ontken. “Dit is beslis nie waar nie.” Elsie sê hulle as gesin kan nie die regs- of ondersoekondersteuning bekostig om die saak behoorlik op te los nie. Dit voel vir haar sy laat haar seun in die steek.

Dylan se kitaar by sy kruis. Foto verskaf

“Hy is op ’n wrede manier weggeneem. Sy drome is weggeneem, terwyl ander hul lewens voortsit,” vertel sy. “Dit is onregverdig hoe my kind se saak hanteer word. Dit voel asof mense verwag dat ek eenvoudig moet (aangaan met my lewe) en toelaat dat sy stem stilgemaak word. Dit sal nooit gebeur nie. As dit jou kind was, sou jy verstaan.”

Die rit vir geregtigheid vir Dylan wil mense se aandag op die saak vestig en ’n beroep doen op verantwoording. Volgens die organiseerder, Willie van Zyl, behels dit ’n vreedsame groepsrit, wat uitloop op die oorhandiging van ’n openbare petisie aan die polisie waarin vordering en deursigtigheid in die ondersoek gevra word.

“Hierdie rit gaan nie oor konflik nie – dit gaan oor eenheid, bewustheid en geregtigheid,” het Van Zyl gesê. “Die motorfietsgemeenskap het nog altyd saamgestaan wanneer dit saak maak, en nou vra ons elke fietsryer om ons stem te laat hoor.

“Op die dag sal ons ’n petisie, onderteken deur lede van die publiek, aan die Heidelbergse SAPD oorhandig, wat ’n deeglike en deursigtige ondersoek na Dylan se saak versoek.”

Van Zyl sê alle motorfietsryers, sowel as lede van die publiek wat in geregtigheid glo, kan gerus deelneem.

Nadere besonderhede oor die geleentheid word na verwagting binnekort bekendgemaak.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.