On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vroetelmammie het nié jong blaar vermoor – Noord-Kaapse polisie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:44 Thu, 19 Mar 2026

Vroetelmammie het nié jong blaar vermoor – Noord-Kaapse polisie | News Article
Foto: iStock

Noord-Kaapse polisie is bewus van ’n sensasionale nuusberig wat die ronde doen op Facebook, maar sê dis beslis nie waar nie.

Daarin word beweer ’n vrou (57) van Roodepan naby Kimberley het haar jong kêrel met ’n byl onthoof. Geen so ’n geval is by hulle aangemeld nie, sê ao. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder. “Dit is fopnuus.”

Die vrou, wat beskryf word as ’n vroetelmammie vanweë die groot ouderdomsverskil tussen haar en die vermeende slagoffer, het haar katelknaap vermoor nadat hy met ander meisies van sy ouderdom gepraat en haar “daai ouma” genoem het, lui die inskrywing. Na bewering het sy haar vererg en hom met ’n byl te lyf gegaan.

Die polisie veroordeel die verspreiding van sulke waninligting sterk en waarsku dat die verspreiding van valse en skadelike inhoud ernstige gevolge kan inhou. Mense wat fopnuus skep of deel wat reputasies skade berokken of paniek aanhits, kan hul rieme styfloop met regstappe, insluitend aanklagte soos crimen injuria of laster, waarsku Shemane.

Om vals nuus te vermy is dit 'n belangrike stap om na ondersteunende bewyse te soek. Foto iStock

In sekere gevalle kan die verspreiding van misleidende inligting ook ondersoek word kragtens wetgewing oor kubermisdaad. Die polisie vra mense moet help keer dat ongeverifieerde en skadelike video’s gedeel word, wat nie net gemeenskappe mislei nie, maar ook die reputasie van die polisiediens en sy personeellede op sosiale media skade berokken.

Weens die vinnige verspreiding van inligting op sosiale media raak dit ál belangriker vir die publiek om nuus te verifieer voordat hulle dit deel. Volgens die VN se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur, Unesco, kan waninligting vinnig versprei en lei tot paniek, verwarring en skade aan individue of organisasies.

Een van die eenvoudigste maniere om inligting te verifieer, is om die bron na te gaan. Betroubare nuusorganisasies en amptelike kanale, soos staatsdepartemente of die polisiediens, sal gewoonlik bevestigde inligting op hul geverifieerde platforms publiseer. As ’n storie nie op ’n geloofwaardige webtuiste voorkom nie, moet dit skepties benader word.

’n Paar ekstra oomblikke om inligting na te gaan kan fopnuus help hokslaan en mense teen skade te beskerm. Foto iStock

Nog ’n belangrike stap is om na ondersteunende bewyse te soek. Betroubare berigte sal besonderhede soos datums, liggings en verklarings van amptenare insluit. As ’n storie oordrewe of emosioneel is, of duidelike bronne kortkom, kan dit misleidend of heeltemal fop wees.

Volgens Africa Check, ’n onafhanklike feitekontroleorganisasie, moet lesers ook inligting oor verskeie betroubare platforms oor en weer nagaan en versigtig wees vir opskrifte wat geskep is om sterk reaksies uit te lok.

Hy meen egter die verantwoordelikheid berus op elke sosialemediagebruiker om krities te dink voordat hulle inhoud deel. ’n Paar ekstra oomblikke om inligting na te gaan, kan fopnuus help hokslaan en mense teen skade te beskerm.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.