Central SA
Hoofverdagte in aanranding op Welkom-bejaarde se bedrogsaak nie op rol─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:00 Fri, 20 Mar 2026
Die bedrogsaak van die hoofverdagte in ’n aanranding van ’n bejaarde van Welkom sal later op die rol geplaas word omdat die staat nog vrae het. Sy is intussen vrygelaat.
Die 64-jarige sou Vrydag (20/3) in die Welkomse landdroshof voorgekom het. Sy is al twee dae in aanhouding.
“My kliënt sal nie vandag in die hof verskyn nie,” sê Louis Botha, haar prokureur, “want die aanklaer het deur die dossier gewerk en daar is steeds vrae wat hulle het. Die saak is dus nie op die rol nie.”
Die verdagte is Woensdag (18/3) tuis in hegtenis geneem nadat sy na bewering iemand anders se bankkaart gebruik vir aankope by verskeie winkels, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.
Vasgevang op video
Die slagoffer (65) het Dinsdag opgemerk dat sy kaart by vier verskillende winkels gebruik is. Nadat hy ondersoek ingestel het, het die winkels se kring-TV-beeldmateriaal glo gewys hoe die verdagte die betalings maak.
Sy word intussen beskou as die hoofbeskuldigde in ’n saak waar ’n bejaarde na bewering in ’n versorgingsoord in die stad aangerand is. Videobeeldmateriaal wys glo hoe die verdagte pille in die bejaarde vrou se mond indwing, in haar gesig blaas, haar neus knyp en op haar spoeg nadat sy medikasie geweier het.
Toe die slagoffer skree, het die verdagte na bewering kleefband om die vrou se kop en mond gedraai, ’n kombers oor haar gegooi en vir haar gesê dat niemand haar sou hoor nie, waarna sy die ligte afgeskakel en die kamer verlaat het.
Sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat met streng voorwaardes, onder meer dat sy minstens 100 m van die instelling af moet wegbly en haar paspoort moes indien.
Al ses beskuldigdes, insluitend die verdagte, moet weer op 30 Maart in die hof verskyn. Botha het bevestig die verhoor begin op 10 Julie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
- Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

