On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Verdagte steeds op vrye voet ná plaasaanval by Coligny

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:54 Fri, 20 Mar 2026

Verdagte steeds op vrye voet ná plaasaanval by Coligny | News Article
Ben en Liani van der Berg. Foto verskaf

Niemand is nog in hegtenis geneem nie ná ’n plaasaanval waarin ’n vrou van Noordwes herhaaldelik met ’n ysterpyp geslaan is.

Liani van der Berg (50) was Dinsdag (17/3) op pad na die perdestalle toe sy skielik van die kant af aangeval is. Die stalle is sowat 500 m van die plaashuis op die plaas Welgevonden naby Coligny.

Die slagoffer kon die verdagte afweer, wat toe te voet gevlug het, sê kapt. Majang Skalkie, provinsiale polisiewoordvoerder. Van der Berg het die verdagte met haar stewels geskop, waarna hy gevlug het.


Sy het huis toe gehardloop waar haar man, Ben, omliggende boere gewaarsku het. Hannes van Jaarsveld, die plaaseienaar, het toe met Liani na ’n hospitaal in Klerksdorp gehaas.

Van Jaarsveld en Ben is teleurgesteld in die polisie se reaksie, en sê ’n beampte was net kortliks op die toneel. “Hulle was hier saam met die honde-eenheid, maar het weer ná ’n rukkie gegaan nadat dit begin reën het,” vertel Van Jaarsveld.

Liani van der Berg is herhaaldelik met ’n ysterpyp geslaan. Foto verskaf

Hulle het ook nie ’n verklaring van Liani op die toneel geneem nie, maar Skalkie sê ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer word ondersoek. ’n Verklaring is sedertdien afgeneem.

Die polisie vra enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, moet Coligny se polisie by 082 416 3593 bel. So nie, bel Stop Misdaad by 08600 10111 of gee wenke deur met die MySAPS-app. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

 * Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

OFM Nuus sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.