On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Brandslagoffers-insameling: Motorfietsryer stabiel, verdere toetse nodig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:54 Mon, 23 Mar 2026

Brandslagoffers-insameling: Motorfietsryer stabiel, verdere toetse nodig | News Article
Jason Kilian, stigter van Modderbok Adventures. Foto verskaf

Die motorfietsryer, wat ernstig beseer is nadat hy duisende kilometers vir brandslagoffers afgelê het, toon bemoedigende tekens.

Jason Kilian, stigter van Modderbok Adventures, moet egter steeds toetse ondergaan om bloedklonte te monitor en te verseker sy toestand bly stabiel. Hy sou Maandag (23/3) weer ’n CT-skandering gekry het. Sy pols (101), suurstofversadiging (97%) en bloeddruk (112/85) was Sondag bestendig.

Hy was Saterdag, 7 Maart, omstreeks 11:40 in ’n motorfietsongeluk naby Carnarvon in die Noord-Kaap, 650 km voor Stellenbosch, sy eindbestemming. Die weldoener het twee dae vantevore The Epic Ride aangepak om 3 000 myl (4 800 km) oor drie dae agtereenvolgens af te lê.

Sy mikpunt was om R250 000 vir die Hero Burn Foundation in te samel. Dié organisasie ondersteun brandslagoffers en hul naasbestaandes landwyd.

MRI-skanderings het frakture aan Kilian se C6- en C7-werwel aan die lig gebring. Foto verskaf

Kilian is ná die ongeluk per helikopter na ’n hospitaal geneem vir spesialisbehandeling, waar hy in kritieke maar stabiele toestand verkeer. Hy het ’n ingewikkelde nekoperasie in Kimberley ondergaan.

MRI-skanderings het frakture aan Kilian se C6- en C7-werwel aan die lig gebring. Sy rugmurg is ongeskonde, maar dringende chirurgie was nodig om druk te verlig, sê Annerie du Plooy, stigter van die Hero Burn Foundation en ’n vriendin.

“Dokters het Sondag (22/3) ’n rugstut ingebring om ekstra ondersteuning te bied terwyl hy hoofsaaklik onbeweeglik bly. Dit sal na verwagting help met posisionering en sy algehele gemak sal verbeter terwyl sy liggaam aanhou genees.” Kilian het ook addisionele ondersteuning gekry om sy longe skoon te hou.

Volgens Du Plooy is sy rusperiodes nou langer, wat volgens dokters te wagte en noodsaaklik is. “Slaap speel ’n deurslaggewende rol in breinbeseringsherstel, wat die liggaam en brein tyd gee om te genees.

Jason is steeds onder sedasie. Foto verskaf

“Jason bly kalm en slaap die meeste van die tyd, met geen beduidende veranderinge in reaksie op hierdie stadium nie,” vertel sy. Daar is egter klein maar bemoedigende ontwikkelings. Hy het effens meer bewustheid getoon, hoewel net vir kort tydperke voordat hy weer slaperig geword het. Medici sê dit is deel van die vroeë herstelproses.

Du Plooy sê ’n CT-skandering wat op 20 Maart uitgevoer is, het klein embolismes in albei longe getoon. “Behandeling is reeds begin, en ’n kardioloog is nou betrokke by sy sorg om die toestand noukeurig dop te hou en te bestuur.” Sy sê die hoofdoelwit bly om Kilian stabiel te hou en sy brein die rus te gee wat dit nodig het om te genees.

Kilian se vriend Jaco Prinsloo, eienaar van Motorcycle Tours Africa, het besluit om die rit namens hom te voltooi en die merkwaardige reis tot sy beoogde eindpunt by Kapstadt Brauhaus op Stellenbosch te bring. Hy het op 13 Maart daar aangekom.

“Jason is ’n goeie vriend. Hy is ’n legende in my oë, iemand na wie ek opkyk. Sterkte met jou herstel. Ons sal die wiele vir jou aan die rol hou. Ek sal die reis voltooi, en ons sal jou sien wanneer jy wakker word,” het Prinsloo vroeër gesê.

Volgens du Plooy bring baie brandslagoffers maande of selfs jare in die hospitaal deur. “Dit is van kardinale belang dat hulle direkte kontak met hul families behou, aangesien daardie ondersteuning noodsaaklik is vir die genesingsproses.


“Die pad na herstel vir hierdie pasiënte is dikwels eensaam en peperduur. Mediese koste kan wissel van R20 000 tot R2 miljoen. Brandwonde is lewenslank, en gaan nie net weg ná ’n jaar of twee nie.”

Arbeidsterapie, fisioterapie en kompressieklere is dikwels nodig om pasiënte te help om weer in die samelewing te integreer. Du Plooy sê geld word gebruik om pasiënte te help om in verbinding te bly met geliefdes, toiletware te verskaf en wondsorg te reël vir diegene wat nie vervoer kan bekostig ná ontslag uit die hospitaal nie.

Die organisasie ondersteun ook langtermynbehandeling, waaronder terapie, voortgesette mediese sorg en toerusting wat benodig word vir ernstige, lewenslange beserings.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.