Central SA
Beskuldigde in Chubby Chick-moorde: Is hy geskik vir verhoor?─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:02 Mon, 23 Mar 2026
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy twee sakeman-broers van Noordwes vermoor het, sal vir waarneming gestuur word om te bepaal of hy toerekeningsvatbaar is.
Robert Joubert (73) het Maandag (23/3) in die Potchefstroomse streekhof verskyn. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord vir die dood van die broers Deon en Johnathan Fourie, asook twee aanklagte van poging tot moord ná ’n skietery met veiligheidswagte.
Die saak is uitgestel tot 11 Mei sodat die verdediging ’n aansoek kan indien ingevolge Artikels 77 en 78 van Strafproseswet, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder in Noordwes. Die hof sal ook bepaal of Joubert geskik is om verhoor te word en of hy strafregtelik aanspreeklik gehou kan word.
Kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, het voorheen aan OFM Nuus gesê Joubert se regsverteenwoordiger het tydens sy vorige verskyning op 25 Februarie die hof meegedeel dat ’n kliniese sielkundige Joubert op 20 Februarie geassesseer het.

Robert Joubert is gewond toe veiligheidswagte op hom geskiet het. Foto: X
Die twee broers was direkteure van Chubby Chick in Potchefstroom. Hulle het die onderneming by hul pa, John Fourie, oorgeneem nadat hy in 2023, toe besturende direkteur van die hoenderonderneming, oorlede is.
Die skietvoorval op 10 November het plaasgevind ná wat glo ’n vergadering oor ’n eiendomstransaksie was. Die twee oorledenes het daardie dag met Joubert vergader.

Volgens die maatskappy het Joubert die perseel aanvanklik ná die vergadering verlaat, maar ná sowat ’n halfuur teruggekeer. Hy het die raadsaal binnegegaan en glo op Deon geskiet en hom ernstig gewond.
Deon het om hulp geroep, waarna Johnathan na die raadsaal gehardloop het. Hy is noodlottig gewond en op die toneel dood. Joubert is ook tydens die voorval gewond toe veiligheidswagte op hom geskiet het.

Deon en Johnathan Fourie saam met hul pa, John. Foto verskaf
Deon is na ’n hospitaal in Gauteng oorgeplaas, waar hy in die intensiewesorgeenheid behandel is. Dit het verskeie prosedures en dialise ingesluit terwyl sy toestand dopgehou is.
Hy het egter op 14 Desember aan komplikasies weens sy skietwonde gesterf; daarom staan Joubert nou tereg op twee aanklagte van moord.
Hofverrigtinge is meermale uitgestel sodat Joubert genoeg kon herstel om voor te kom. Hy was langer as ’n maand ná die voorval onder polisiebewaking in die provinsiale hospitaal. Hy bly in aanhouding.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
