On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Boerboeltelers bring aansoek om stertverwydering wettig te maak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 16:00 Mon, 23 Mar 2026

Boerboeltelers bring aansoek om stertverwydering wettig te maak | News Article
Ziyaad Issa, ’n boerboelteler van Bloemfontein. Foto verskaf

’n Vrystaatse boerboelteler en ’n nasionale telersliggaam nader die hooggeregshof in Bloemfontein om die omstrede praktyk van die verwydering van sterte by boerboele wettig te verklaar.

Ziyaad Issa, ’n teler van Bloemfontein en adjunkvoorsitter van die SA Boerboeltelersvereniging, het die aansoek in Februarie ingedien. Hy voer aan stertverwydering moet gereguleer word eerder as om dit heeltemal te verbied.

“Boerboele is ’n erkende Suid-Afrikaanse landras en stertverwydering het histories deel gevorm van die ras se ontwikkeling,” sê Issa. “Ons glo dat dit binne die korrekte konteks oorweeg moet word.”

Die aansoek word teen die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, die minister van landbou en die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad ingedien.

Boerboele is ’n erkende Suid-Afrikaanse landras en stertverwydering het histories deel gevorm van die ras se ontwikkeling. Foto verskaf

Hy sê die huidige regsposisie is nie duidelik nie, veral waar prosedures professioneel en menslik onder veeartsenykundige toesig uitgevoer word. Hoewel hulle die rol van die NDBV en die veeartsenykundige raad respekteer, is daar ’n dringende behoefte aan groter regsduidelikheid.

Volgens Issa kan die pyn en risiko van stertverwydering verminder word, indien dit deur ’n gekwalifiseerde veearts op ’n baie jong ouderdom gedoen word. Hoewel daar altyd risiko’s is, is dit minimaal wanneer dit korrek uitgevoer word.

Hy sê daar is geen bewese nadelige uitwerkings op die lang termyn wanneer die prosedure behoorlik gedoen word nie. Die telers voer aan stertverwydering gaan nie net oor voorkoms nie, maar ook rasidentiteit, geskiedenis en praktiese oorwegings, veral vir groot honde in verskillende omgewings.

Hy hou vol ’n boerboel kan steeds normaal kan leef sonder ’n stert. “Hulle kan steeds swem, wag hou en ’n normale, gesonde lewe lei.”

Stertverwydering kan deur 'n gekwalifiseerde veearts gedoen word. Foto verskaf

Kundige bewyse sal in die hof aangebied word om bewerings te ondersteun dat stertverwydering kan help om beserings te voorkom, veral by groot, aktiewe honde.

Die telersvereniging beskou die kwessie ook as een van die behoud van ’n unieke Suid-Afrikaanse ras. “Rasstandaarde sluit beide funksie en historiese identiteit in,” sê Issa.

“Verskillende lande volg verskillende benaderings, maar hierdie is ons landras. Daarom moet Suid-Afrika, as die land van oorsprong, bepaal wat gepas is vir die boerboel.”

Die afdwing van die huidige wet het toenemende druk op telers geplaas en mag dalk sommige ongereguleerde strukture dryf.

“Daar is kommer oor teenstrydigheid in hoe die wet toegepas word,” sê hy. “Daarom is hofverduideliking belangrik. Die kwessie kan ’n balans tussen dierewelsyn en eienaarsregte vereis.”

Die NDBV sê dit kom neer op “verminking”. Foto verskaf

Die NDBV hou egter vol stertverwydering is onwettig en dit kom veroorsaak onnodige lyding. Die prosedure word dikwels uitgevoer op hondjies van net twee tot vyf dae oud, wanneer hul senuweestelsels reeds in staat is om pyn te voel.

“In sommige gevalle word ’n skêr gebruik om die stert te sny, of ’n rekkie word daarom vasgemaak om bloedvloei te beperk. Dit word gedoen sonder verdowingsmiddel of pynmedikasie, wat onnodige lyding veroorsaak,” sê NDBV-woordvoerder Samanta Stelli.

Dit kom neer op “verminking” kragtens die Dierebeskermingswet omdat dit ’n belangrike deel van ’n hond se anatomie verwyder. “Die stert is noodsaaklik vir balans, beweging en kommunikasie. Die prosedure is slegs wettiglik aanvaarbaar wanneer dit deur ’n veearts om geldige mediese redes uitgevoer word.”

Die NDBV betwis ook bewerings dat die afsit van sterte nodig is om beserings te voorkom, en sê daar is geen bewyse van wydverspreide stertbeserings in rasse soos boerboele of rottweilers nie.

Stelli waarsku egter teen potensiële nadele op lang termyn.

Die stertverwydering-kwessie kan die ras se toekoms en internasionale mededingendheid beïnvloed. Foto verskaf

“Honde sonder sterte kan sukkel om effektief te kommunikeer, wat tot gedragsprobleme kan lei, terwyl fisiese komplikasies soos infeksies en senuweeskade ook kan voorkom.

“Die verwydering van die sterte van potensieel gevaarlike honde is onverantwoordelik.”

Issa het voorheen waarskuwings van die NDBV ontvang nadat hy honde met afgesnyde sterte vertoon het. Ander telers is ook deur vervolging in die gesig gestaar.

Die NDBV bevestig voortgesette oortreding kan tot strafregtelike vervolging lei.

Indien die hof ten gunste van die aansoekers beslis, kan die afsit van diere se sterte onder streng veeartsenykundige beheer toegelaat word. Die NDBV sê hulle sal so ’n besluit sterk teenstaan en sê dit sou bots met wetgewing wat ontwerp is om diere te beskerm.

Issa erken die hofuitslag is belangrik. “Dit kan die ras se toekoms en internasionale mededingendheid beïnvloed, maar verantwoordelike teling sal voortduur.”

Hy beklemtoon die saak is ingewikkeld en sal deeglike oorweging vereis. “Hierdie kwessie behels welsyn, geskiedenis en wetgewing; daarom word dit hof toe geneem.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.