Central SA
Jong bestuurder kry opgeskorte vonnis ná ongeluk drie kinders eis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:59 Tue, 24 Mar 2026
Die bakkiebestuurder wat skuldig gepleit het op alle aanklagte nadat drie kinders in ’n ongeluk buite Bloemfontein gesterf het, word vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Tristan Kearney (20) is Dinsdag (24/3) in die Bloemfonteinse streekhof sewe jaar tronkstraf opgelê, opgeskort vir vyf jaar, en drie jaar korrektiewe toesig. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy die drie kinders se dood veroorsaak het.
Die staat het direkte gevangenisstraf gevra. Sy gevangenisstraf is opgeskort op voorwaarde dat hy nie binne vyf jaar skuldig bevind word aan strafbare manslag, wat voortspruit uit ’n motorvoertuigongeluk nie.
Die korrektiewe toesig plaas hom effektief onder huisarres. Hy sal sy woonplek slegs mag verlaat vir werk, kerk en mediese doeleindes.

Ryan Smit (6), Ayden Smit (8) en Leané van Papendorp (6). Foto: Facebook
Aanklagte van roekelose en nalatige bestuur, sowel as versuim om ’n padverkeersteken te gehoorsaam, is teruggetrek.
Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp (8) is op 24 Januarie verlede jaar op slag dood in die botsing op die kruising van die nasionale pad en Krugerlaan, oorkant Aljo se Superspar. Ryan se broer, Ayden (8), het later in die hospitaal beswyk.

Familie van die Smit-boeties omhels mekaar in trane ná 'n vorige hofverskyning. Foto: Charne van der Merwe
Nóg ’n jong insittende van die Chevrolet Spark waarin hulle op pad skool toe was in Estoire, Tennique Joubert (toe 6), was byna twee weke ná die ongeluk in ’n koma. Sy is in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein behandel, waar haar milt verwyder is. Sy is ná 19 dae ontslaan.
Adri Jonck, Leané se ma, het die Spark bestuur. Sy was met die vier kinders op pad na die Primêre Skool Dr. C.F. Visser. Jonck het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem, maar is dieselfde dag ontslaan.
Kearney se regsverteenwoordiger, adv. Allen Simpson, het aan landdros Rasheed Matthews gesê verskeie versagtende faktore moet oorweeg word tydens die vonnisoplegging.
Dit sluit in ’n verslag van die staat se deskundige wat aandui die ander bestuurder het moontlik ook tot die botsing bygedra asook bevindinge dat Kearney se gedrag neerkom op geringe nalatigheid.

Herman van Papendorp, Leané se pa en sy verloofde, Amoré Stander, op 'n vorige geleentheid buite die hof. Foto: Charne van der Merwe
Simpson het voorheen gesê dis vir hom vreemd dat Jonck nie ook vervolg is nie. Kearney het voorheen gesê hy is van voorneme om die slagoffers se naasbestaandes om verskoning te vra, maar het gesê hy het gewag vir die afhandeling van die saak.
Leané se pa, Herman Papendorp, het gekies om met Kearney te gesels. In ’n emosionele gesprek het Kearney verskoning gevra vir die pyn wat hy veroorsaak het.
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

