On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sepsis eis Vrystater vyf maande ná roetineoperasie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:51 Wed, 25 Mar 2026

Sepsis eis Vrystater vyf maande ná roetineoperasie | News Article
Desire en Charlie Niemann. Foto verskaf

’n Vrystater, wat sepsis ontwikkel het ná ’n operasie en langer as vyf maande in die hospitaal deurgebring het, is oorlede.

Charlie Niemann (56) het Dinsdag (24/3) beswyk aan komplikasies nadat hy in Oktober in ’n privaat hospitaal geopereer is om ’n breuk in sy buik te herstel. Ná die prosedure het hy sepsis ontwikkel en daarna verskeie lewensgevaarlike operasies ondergaan.

Sy toestand het egter so verslag dat hy na die Busamed-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is en in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.


Niemann, ’n motorverkoper van Virginia, het op 10 Maart sy 23ste operasie ondergaan, maar dokters kon slegs ’n gedeelte van die prosedure voltooi. ’n Opvolgoperasie is vir drie dae later beplan. Weens komplikasies is dit egter onbepaald uitgestel, sê Chantelle van der Berg van Hands of Grace, ’n organisasie sonder winsoogmerk op sy tuisdorp.

Op 12 Maart is hy onder verdowing geplaas om erge pyn te verlig en sy liggaam tyd te gee om te rus. Tydens sy laaste operasie is sy ingewande gerekonstrueer en weer aangeheg sodat dokters die drein kon verwyder en die buikwond toemaak.

Charlie het 23 operasies ondergaan. Foto verskaf

’n Week tevore is membrane en verklewings tydens ’n gastroskopie herstel, en sy buik is weer gespoel en skoongemaak. Niemann het ook aan nierversaking gely en gereelde dialise benodig.

Van der Berg sê Charlie het dapper geveg en sy reis met merkwaardige krag en waardigheid verduur. “Nou rus jy in die arms van Jesus, waar daar geen pyn, geen trane is nie, net vrede,” skryf sy op Facebook.

“Aan almal wat hom liefgehad het, ons bid vir julle. Desire, ons het geen woorde vir julle gebroke hart nie. Jy en Charlie was nie net sielsgenote nie, maar beste vriende, tjommies en alles wat mooi is. Mag God se vrede, wat alle verstand te bowe gaan, jou omhels gedurende hierdie moeilike tyd,” skryf Van der Berg gesê.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.