On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Kinderverkragter uit op borgtog ná appèlaansoek slaag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:45 Thu, 26 Mar 2026

Kinderverkragter uit op borgtog ná appèlaansoek slaag | News Article
Piet Badenhorst. Foto verskaf

’n Voormalige Noordwes-polisiebeampte, wat skuldig bevind is aan seksuele aanranding, is op borgtog vrygelaat hangende sy appèlsaak.

Piet Badenhorst se petisie om verlof tot appèl is deur die hooggeregshof in Mmabatho toegestaan. Hy is verlede week op borgtog van R20 000 vrygelaat.

Sy aansoek ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet om op ’n vierde aanklag vrygespreek te word, was ook suksesvol, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder.

Badenhorst is in Julie tot vier jaar effektiewe gevangenisstraf gevonnis, ná ’n vyf jaar lange regsproses, nadat hy in die Zeerust-streekhof skuldig bevind is op drie aanklagte van seksuele aanranding waarby twee tienerseuns betrokke was. Albei seuns was ten tyde van die voorvalle leerders by ’n skool in Zeerust.

Badenhorst, wat die aanklagte steeds ontken, het destyds in voertuigherstelwerk gewerk. Hy het na bewering sy vrou – wat betrokke was by sportafrigting by die Zeerust-skool – op ’n toer vergesel toe die voorvalle glo plaasgevind het.

Hy het in 2020 die eerste eer in die hof op hierdie aanklagte verskyn. Daar was aanvanklik drie klaers, maar een saak is in 2022 teruggetrek.

“ ’n Tienerseun (toe 13) van Zeerust het in 2020 beweer Badenhorst het hom tydens ’n sporttoer in Kroonstad verkrag. Badenhorst is in 2022 in die Kroonstadse landdroshof onskuldig bevind aan daardie aanklag.

“Die klaer het teenstrydige weergawes in die hof gegee rakende gebeure wat na bewering tydens ’n sporttoer in 2015 plaasgevind het,” het kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder voorheen aan OFM Nuus gesê.

Sy prokureur, Johan Horn, voel die landdros het in verskeie aspekte van haar uitspraak gefouteer. Sy het ook destyds hul aansoek om verlof tot appèl teen die skuldigbevinding en vonnis van die hand gewys.

Horn het daarna ’n petisie om verlof tot appèl in die hooggeregshof ingedien. Hulle wag nou vir ’n datum om die hoofde van betoog in te dien, waarna die appèl aangehoor sal word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.