Central SA
Vrystater reeds twee weke vermis ná ongeluk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:54 Fri, 27 Mar 2026
Twee weke nadat ’n Vrystaatse pa se voertuig verlate gevind is ná ’n ongeluk op die N1 naby Koppies, is daar steeds geen teken van hom nie.
Hugo du Preez (43) het Saterdag 13 Maart, kort voordat die laaste keer van hom gehoor is, verskeie boodskappe aan mense gestuur, onder meer sy suster, Sandra Swanepoel, op Thabazimbi in Limpopo.
Volgens sy familie was Hugo besig met ’n projek by ’n lodge op Kroonstad, waar hy twee weke sou gewerk het. Daar word geglo dat hy die lodge verlaat en op pad na Sasolburg was toe die ongeluk op 15 Maart plaasgevind het.

Hugo du Preez en sy seun. Foto verskaf
Du Preez het nie ’n vaste verblyfplek nie, omdat hy as ’n veiligheidsverteenwoordiger geruime tyd op ’n plek vertoef terwyl hy daar werk.
Die polisie het op die toneel naby Koppies op sy wit Volkswagen Polo afgekom. Die voertuig het skade aan die verkoeler opgedoen en is afgeskryf. Hugo was egter nêrens te vinde nie.
Swanepoel sê al sy besittings was steeds binne-in die motor, waaronder sy selfoon, beursie, skootrekenaar en klere. Daar was ook geen sigbare tekens dat hy in die ongeluk beseer is nie.
Die polisie kon Swanepoel opspoor nadat hulle Du Preez deur die voertuigregistrasie geïdentifiseer het. Volgens haar is hy verlede jaar ook as vermis aangemeld, en sy besonderhede was reeds op die polisiestelsel ná daardie voorval.
Ten spyte van die omstandighede was die polisie op Koppies na bewering huiwerig om ’n saak aanhangig te maak omdat hulle blykbaar gemeen het Du Preez wil nie gevind word nie.
Selfoon
Hugo word deur sy familie beskryf as ’n ekstrovert, humoristies en gesellig, maar ook in staat om ernstig te wees.
Daar was intussen geen aktiwiteit op sy selfoon of sosialemediarekeninge sedert sy verdwyning nie, en sy familie sê hulle het geen idee waar hy kan wees nie.
Enigiemand met inligting wat kan help om hom op te spoor, word versoek om Sandra Swanepoel te kontak by 076 122 6922 of Sarienna Cillié, die ma van sy kind, by 084 715 4132.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn:066 487 1427.

