Central SA
Thaba Nchu se polisie vind gesteelde vee, verlate bakkie─── 10:09 Wed, 01 Apr 2026
Die polisie van Thaba Nchu het twee mans en ‘n vrou, vermoedelik lede van ’n veediefstalsindikaat, Maandag (30/3) in hegtenis geneem. Dit volg nadat 17 vermoedelik gesteelde beeste op ’n erf in die Ramakgari-township gevind is.
Die polisie het ook die vleis van ’n geslagte koei in 'n yskas gevind en gekonfiskeer. Die polisie het die betrokke dag omstreeks 20:10 'n wenk ontvang rakende vermoedelik gesteelde vee wat op ‘n erf by ’n huis in Ramakgari aangehou word.
Die stasie- en speurbevelvoerders van die Thaba Nchu-polisie het ’n span saamgestel met lede van die taktiese reaksiespan en die Bloemfonteinse blitspatrollie, en op die erf toegesak.
Beeste is vir bewaring na polisiestasie geneem
Met hul aankoms op die toneel is 17 beeste ontdek en ná verdere ondersoek is ’n geslagte koei in ’n yskas gevind. Die vleis is gekonfiskeer en die beeste is na die plaaslike polisiestasie geneem vir veilige bewaring en identifikasie.
Die huiseienaars, ‘n man en ‘n vrou, asook ’n tweede man is op die toneel in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelike gesteelde eiendom en veediefstal.
’n Voorlopige ondersoek verbind die vee aan ’n plaas in die Tweespruit-gebied, waar die eienaar die diefstal van 35 beeste wat oornag gesteel is, aangemeld het. Die polisie ondersoek die moontlikheid of die verdagtes verbind kan word met ander veediefstalsake in die omgewing.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Thaba Nchu-landdroshof verskyn.

Die polisie het op dié verlate Nissan-bakkie langs die N8 afgekom. Foto: SAPD
Verlate bakkie op N8 gevind
In ’n afsonderlike voorval op dieselfde dag het lede van Thaba Nchu se eenheid vir misdaadvoorkoming tydens ’n roetinepatrollie ’n wit Nissan 1400-bakkie afgekom wat verlate langs die N8-hoofroete gestaan het.
Die bakkie se besonderhede is nagegaan en daar is gevind die voertuig is in die Parkweg-polisiëringsgebied as gesteel aangemeld.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur voort.
OFM Nuus cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

