On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch James
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Man wat sy vrou glo bedwelm, verkrag doen dán aansoek om borgtog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:24 Thu, 02 Apr 2026

Man wat sy vrou glo bedwelm, verkrag doen dán aansoek om borgtog | News Article
Die twee verdagtes. Foto Verskaf

Die Gautengse man (34) wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou bedwelm, verkrag en video's van haar verkoop het kon nie Woensdag (1/4) om borgtog aansoek doen nie.

Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Warren Brider, se mandaat is Saterdag (28/3) beëindig. Die man staan tereg op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, die verspreiding van beeldmateriaal van ’n intieme aard sonder toestemming en die besit van kinderpornografie.

Hy en ’n medebeskuldigde (48) het in die Boksburg-landdroshof aan die Oos-Rand verskyn vir 'n formele borgtogaansoek. Na verwagting sal hulle volgende Vrydag (10/4) weer verskyn, sê lt.kol. Amanda van Wyk, nasionale polisiewoordvoerder.

Die medebeskuldigde kon ook nie om borgtog aansoek doen nie. Hy staan tereg op aanklagte van verkragting, seksuele aanranding, die verspreiding van intieme beeldmateriaal sonder toestemming, die besit van kinderpornografie, die gebruik van kinders om pornografie te vervaardig, die onwettige besit van vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie. Die beskuldigdes is aan mekaar bekend.


Seksuele misbruik van kinders

“Die saak is uitgestel om beskuldigde nommer een tyd te gee om met sy nuwe regsverteenwoordiger, Samkele Kuzani, te konsulteer. In teenstelling hiermee het die regsverteenwoordiger vir beskuldigde nommer twee, Frik van Rensburg, aangedui hy is gereed om met die borgtogaansoek voort te gaan.”

Van Wyk sê die landdros het besluit om die beskuldigdes se borgtogaansoeke terselfdertyd aan te hoor.

OFM Nuus het voorheen berig die 34-jarige het na bewering sy vrou oor 'n tydperk van vyf jaar bedwelm, verkrag en pornografiese materiaal versprei waar hy seksuele dade op haar uitvoer. Dit is sonder haar toestemming of medewete op 'n eksklusiewe sosiale mediaplatform versprei.

Verdere ondersoek het die polisie na beskuldigde nommer twee in Germiston gelei. Dit het aan die lig gekom dat die mans mekaar ken.

Hulle is aangekeer nadat die misdaadeenheid wat elektroniese oortredings ondersoek (Seci), ’n intelligensieverslag ontvang het van die Nasionale Misdaadagentskap (NCA) van die Britse hoë kommissie in Kaapstad. Die verslag het gehandel oor ’n Suid-Afrikaner wat na bewering betrokke is by seksuele dade met slapende mense.

Die ondersoekspan het bestaan uit beamptes van die nasionale en provinsiale Seci-eenheid in Gauteng, en is bygestaan deur die Amerikaanse ambassade se afdeling vir binnelandse veiligheid.

Die polisie het ook op die tweede verdagte se elektroniese toestelle beslag gelê, asook twee ongelisensieerde vuurwapens in sy besit gekry. Die aanklagte sluit ook in die oortreding van art. 16 van die Wet op Kubermisdaad wat handel oor die verspreiding van eksplisiete beeldmateriaal sonder die slagoffer se toestemming.

‘Die 34-jarige het na bewering sy vrou oor 'n tydperk van vyf jaar bedwelm, verkrag en pornografiese materiaal versprei’

Van Wyk sê ondersoeke en die forensiese ontleding van die verdagtes se toestelle duur voort.

Die mans se identiteite mag nie bekend gemaak word nie. Mense wat op seksverwante aanklagte teregstaan mag ingevolge die wet slegs geïdentifiseer word nadat hulle gepleit het, en slegs indien dit nie die identiteit van die slagoffers openbaar nie.

Volgens Van Wyk is minderjariges by die saak betrokke, en beskuldigde nommer twee het glo kinders. Maria Fyfe is die aanklaer.

OFM Nuus/Charne van der Merwe 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.