On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch James
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Gemeenskappe moet voorgestelde waterregulasies teenstaan

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:21 Thu, 02 Apr 2026

Gemeenskappe moet voorgestelde waterregulasies teenstaan | News Article
Die Vaaldam. Foto: Michael Gundelfinger/Wikipedia

Suid-Afrikaners wat naby staatsdamme woon se ontspanning- en handelsbedrywighede kan binnekort streng beperk word indien die departement van water en sanitasie se konsepregulasies goedgekeur word.

Die DA in die Vrystaat berei ’n formele beswaar voor en sal aan minister Pemmy Majodina skryf om duidelikheid te versoek en te vra die regulasies moet teruggetrek word. Die party sal ook daarteen stem in die parlement.

Die DA vra gemeenskappe, klubs en plaaslike ondernemings om nou op te tree om openbare toegang, werksgeleenthede en toerisme te beskerm. Die voorgestelde regulasies sal openbare damme omskep in beheerde bates wat huurkontrakte vereis, ontspanningstoegang beperk en ’n swaar administratiewe las plaas op privaat grondeienaars, sê dr. Igor Scheurkogel, DA-parlementslid.

Hy waarsku dit kan eiendomsregte, sakeondernemings en lewensonderhoud in gevaar stel, veral in gebiede wat staatmaak op toerisme en ontspanningsbedrywe soos hengel.


“Die konsepregulasies bedreig die ekonomiese lewensaar van gemeenskappe rondom hierdie damme. Dit is strydig met die Nasionale Waterwet, wat ontspanningsgebruik uitdruklik toelaat en erkenning gee aan bestaande wettige bedrywighede.”

Ingevolge die nuwe regulasies sal goedkeuring deur ’n “bevoegde owerheid” vereis word vir lanseerplekke, kaaie en natuurlike toegangspunte. Hulpbronbestuursplanne verskuif die beheer na staatsbestuurde huurkontrakte, wat kommer wek dat openbare toegang deur burokrasie opgeskort kan word.

Toerisme en ontspanning om damme dra aansienlik by tot plaaslike ekonomieë. Die geelvishengelbedryf aan die Vaalrivier alleen genereer meer as R133 miljoen per seisoen in inkomste uit toerusting, verblyf en verwante besteding.

Scheurkogel waarsku indien hierdie regulasies aanvaar word, sal dit onnodige burokrasie meebring, wat werksgeleenthede en klein ondernemings kan bedreig wat op toerisme en ontspanning staatmaak.

“Ons moet verseker dat hulpbronbestuursplanne openbare toegang, wettige ontspanningsgebruik en die lewensbestaan van gemeenskappe regoor Suid-Afrika respekteer.”

Inwoners kan hul stemme laat hoor deur besware in te dien voor 13 April, per pos, e-pos of handaflewering.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.