Central SA
Goudveldse oudpolisieman, vrou skuldig – slaap agter tralies─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:40 Tue, 07 Apr 2026
’n Vrystaatse oudpolisieman bring sy eerste nag agter tralies deur nadat hy en sy vrou skuldig bevind is aan verskeie aanklagte ná ’n ses jaar lange hofsaak.
Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie het Dinsdag (7/4) in die streekhof in Welkom voorgekom, waar uitspraak gelewer is. Hulle word na verwagting Woensdag (8/4) gevonnis. Anna se waarskuwing is verleng.
Adv. Allen Simpson, staatsaanklaer, het aan die hof gesê dus in die haak dat sy eers reëlings tref rakende die egpaar se gestremde kind (34).

Adv. Allen Simpson en Ben Strydom, ondersoekbeampte. Foto: Charne van der Merwe
Gedurende ’n vorige hofverskyning het Fourie ’n versoek van Simpson geweier om ’n foto van dié seun hof toe te bring. Die staat meen die foto kan lig werp op die moontlike motief vir die beweerde oortredings.
Hulle is skuldig bevind aan meer as duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria ná ’n vete met die sakebroers Manny en José Jardim. Die egpaar is ook verantwoordelik vir graffiti wat jare lank brûe, padtekens en mure dwarsoor die Goudveld ontsier het.

Die Jardims is in hierdie graffiti geteiken. Foto verskaf
Die egpaar is ook aangekla van poging tot moord in verband met voorvalle waarin een van die broers se huis na bewering met ’n spykerbom aangeval is en skote daarop afgevuur is. Een van die skote het ’n kind na bewering rakelings gemis. Hulle is wel ook skuldig aan intimidasie.
Die verhoor is met die jare meermale vertraag, onder meer deur ’n doktersbrief, wat namens Anna ingedien is en waarin beweer is sy het brongitis gehad, en Fourie se versoek om ’n tolk, ten spyte daarvan dat hy voorheen vrae in Engels beantwoord het.
Fourie is glo uit die polisie ontslaan ná beweerde misdadige optrede. Simpson is ingevolge art. 38 van die NVG aangestel om namens die vervolging op te tree.
OFM Nuus/Charne van de Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
