On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vermoorde perdeafrigter van Vaaldriehoek onthou as liefdevolle pa

───   ZENANDE MPAME 16:07 Wed, 08 Apr 2026

Vermoorde perdeafrigter van Vaaldriehoek onthou as liefdevolle pa | News Article
Die vermoorde perdeafrigter van die Vaaldriehoek word as liefdevolle pa onthou. Foto verskaf

“Alles voel nog effens onwerklik,” sê Jan-Hendrik Borman, seun van die vermoorde perdeafrigter van die Vaaldriehoek, Jannie Borman.

“Maar ons is ’n hegte familie en almal ondersteun mekaar hierdeur,” voeg Jan-Hendrik (34) by. Die 73-jarige se geliefdes worstel met sy skokkende dood.

Hy is Saterdag (4/4) vermoor op die Vaal-renbaan op Viljoensdrift, naby Vereeniging. ’n Troosdiens word binnekort gehou om sy lewe te gedenk.

Mozamo William Kepile (53), wat vir die familie gewerk en op dieselfde kleinhoewe gewoon het, sal Donderdag in die landdroshof op Sasolburg op aanklagte van moord verskyn.


Hy en sy vermeende slagoffer het blykbaar stry gekry oor perderesies-uitslae nadat hulle Saterdag saam gekuier het. Die rusie het handuit geruk toe die 53-jarige na bewering ’n graaf geryp en Jannie daarmee bygedam het.

“Die verdagte het later vir ’n veiligheidsbeampte vertel wat gebeur het,” sê sers. Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Die wag het dadelik die nooddienste ontbied.”

Jannie, ’n oupa van vyf, is op die toneel dood verklaar en die 53-jarige is in hegtenis geneem.

Jan-Hendrik sê die identiteit van die verdagte is vir hulle ’n skok. “My pa en dié man sou aan dieselfde tafel eet. My pa het omtrent 20 jaar lank na hom omgesien.”

Jannie was ’n oupa van vyf. Foto verskaf

Hy vertel sy pa was lief vir hulle almal. “Ons het net verlede week heerlik met hom gesels. So dit en die herinnering wat ons aan hom het, vertroos is.”

Borman se lewe was diep gewortel die perdewedrenbedryf nadat hy in 1997 dié loopbaanrigting gekies het. As ’n perdefluisteraar was hy daarvoor bekend dat hy die potensiaal in perde kon raaksien wat ander misgekyk het.

Sy toewyding en passie laat ’n blywende indruk op die bedryf.

Nadat hy sy eie lisensie bekom het, het hy sy amptelike loopbaan as perdeafrigter in Bloemfontein begin. Borman het in 2005 na Kimbeley verhuis waar hy sukses in die Noord-Kaap behaal het. In 2020 het hy na die Vaaldriehoek verhuis. Die Covid-19-pandemie het daartoe gelei day hy sy aantal perde verminder het, berig Vaalweekblad.

Die perderesieswebtuiste 4Racing berig hy laat ’n groot leemte. “Hy was altyd optimisties oor die toekoms en was ’n gesiene en gewilde lid van die Vaal-afrigterskorps.”

Dis hartseer om ’n lid van die resiesgemeenskap so te verloor, berig 4Racing, maar “ons vertrou en ondersteun die regsproses en sal die owerheid bystaan op enige moontlike manier”.

Die laaste boodskap wat Jan-Hendrik van sy pa ontvang het was ’n eenvoudige foto van ’n sjokolade-en-aarbei-koek wat hy gebak het. “Dis die laaste ding wat ons ooit van hom sal sien,” sê sy seun.

OFM Nuus/Zenande Mpame sm

 • Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.