On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Polisiebeamptes se moordverhoor uitgestel tot Junie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:09 Fri, 17 Apr 2026

Polisiebeamptes se moordverhoor uitgestel tot Junie | News Article
Chesnay Patricia Keppler (22), ’n Gautengse teenmisdaadbeampte, is in 2024 vermoor. Foto verskaf

Die driedaagse verhoor van twee Gautengse polisiebeamptes, wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n jong vrou vermoor het, is tot Junie uitgestel

Sers. Mandlenkosi Gladman Buthelezi, een van die beskuldigdes, se prokureur was ’n dag voor die verskyning in ’n ongeluk betrokke. Die saak is van 8 tot 12 Junie op die rol geplaas, sê Magaboke Mohlatlole Gautengse NVG-woordvoerder.

Die verhoor sou aanvanklik op 14 April in die Johannesburgse hooggeregshof begin het, byna 15 maande ná die moord op Chesnay Patricia Keppler (22), ’n Gautengse teenmisdaadbeampte. Buthelezi en sy medebeskuldigde, konst. Llewellyn Meyers (36), staan tereg op aanklagte wat verband hou met haar dood.

Keppler is in die vroeë oggendure van 26 Desember 2024 noodlottig gewond tuis in Eldorado Park, suid van Johannesburg.

Buthelezi staan tereg op aanklagte van moord, poging tot ontvoering, drie aanklagte van aanranding, kwaadwillige saakbeskadiging en regsverydeling, sê Mohlatlole. Meyers staan tereg op aanklagte van regsverydeling, twee aanklagte van aanranding en drie van poging tot moord.

Chesnay Patricia Keppler is in 2024 vermoor. Foto verskaf

Buthelezi het na bewering beskonke en ongenooid by Keppler se huis opgedaag en haar aangerand. Hulle was in ’n verhouding. Hy het na bewering probeer om haar in ’n voertuig te dwing, maar sy het haar teëgesit. Keppler en ’n ander vrou het toe uit die huis gevlug.

“Keppler is meermale deur haar kombuisvenster geskiet en het kort daarna in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal beswyk,” sê Mohlatlole. “Sy het gereeld saam met beamptes van die Eldorado Park-polisiekantoor gewerk en was op Kersdag van diens af.” 

Ná die voorval het Buthelezi hom na bewerring uit die voete gemaak en homself geskiet. Hy is in die hospitaal opgeneem en onder polisiebewaking geplaas voordat hy in hegtenis geneem is.

Gerugte het die ronde gedoen Buthelezi het Keppler voorheen mishandel. Hy is ook glo by korrupte bedrywighede betrokke, het Dereleen James, ActionSA-LP, vroeër gesê.

Meyers is in hegtenis geneem en as medebeskuldigde bygevoeg nadat dit tydens die ondersoek aan die lig gekom het albei mans was op Kersdag 2024, kort voor die moord, saam op ’n partytjie in Eldorado Park.

“Meyers is op borgtog vrygelaat hangende die verhoor, en Buthelezi bly in aanhouding,” sê Mohlatlole.

Premier Panyaza Lesufi het ná haar dood gesê die sinnelose moord op ’n teenmisdaadbeampte het die gemeenskap van Eldorado Park van ’n “onbaatsugtige en vreeslose dienaar van die mense” beroof. “Sy was een van ons, en haar lewe is geneem deur iemand wat die gemeenskap vir beskerming vertrou het. Ons sal toesien die oortreder word gestraf.”

Mohlatlole sê die NVG verlang geregtigheid vir die slagoffer en haar naasbestaandes.

OFM Nuus sm

 * Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.