On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

9-jarige van Kathu begin weer loop ná pofadderbyt

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:15 Fri, 17 Apr 2026

9-jarige van Kathu begin weer loop ná pofadderbyt | News Article
Carmi wil so gou as moontlik weer loop. Foto verskaf

Die negejarige van die Noord-Kaap wat tydens ’n gesinsvakansie deur ’n pofadder gebyt is, is terug by die huis, waar sy weer op haar gelukkigste is by haar sussie en tussen haar honde.

Carmi Louw van Kathu is reeds ’n week tuis nadat sy Vrydag (10/4) na byna agt dae uit die hospitaal ontslaan is. ’n Paar dae voor haar ontslag het sy met krukke stadig maar seker begin loop.

Sy moes ook op 9 April ’n operasie ondergaan waartydens die dokter al haar snye heeltemal met steke toegemaak het, sonder ’n veloorplanting, sê haar ma, Melanie Louw.

Die Louw-gesin was met vakansie op Cintsa aan die Wildekus toe Carmi op 2 April buite hul vakansiehuis gespeel en ’n maatjie wou gaan groet het. “Reg langs die strandmeer het sy iets gevoel en afgekyk. Sy het die slang gesien; hy het weer probeer pik, maar sy het geskree en gehardloop,” het Louw vroeër vertel.

Die slangbyt. Foto verskaf

Die gesin het met haar na die naaste hospitaal gehaas en binne 40 minute by die Life St. Dominic’s-hospitaal in Oos-Londen aangekom. Carmi is later oorgeplaas na die waakeenheid in die Life Beacon Bay-hospitaal, elders in die stad.

Dokters het aanvanklik ’n pofadderbyt vermoed omdat die wond so vinnig agteruitgegaan het, vertel haar ma. “Die volgende dag was haar been erg geswel en dokters het besluit om teengif toe te dien. Die teater is vir tweeuur die middag bespreek om drie lang snye in haar been te maak om die druk te verlig.”

Carmi se pyn is minder en sy herstel goed. Foto verskaf

Louw sê hulle is verlig en dankbaar om weer as gesin by die huis saam te wees. “Dit gaan baie goed met haar. Sy is vriendelik, vrolik en het min tot geen pyn.

“Dit is vir haar heerlik om weer by die huis te wees – sy het haar sussie, die hondjies en mamma se kos vreeslik gemis. Sy geniet dit baie wanneer haar maatjies vir haar kom hallo sê, asook elke briefie, gebed en boodskap wat sy ontvang.”

Carmi was byna agt dae in die hospitaal. Foto verskaf

Louw vertel Carmi het Maandag by haar skool ingeloer en het self met haar krukke tot by haar klas geloop om haar juffrou ’n drukkie te gee. “Huiswerk word elke dag getrou gedoen, sonder enige gekla. Sy wil net graag weer terug skool toe gaan – sy mis haar maatjies baie.”

Sy sê die fisioterapeut is tevrede met Carmi se vordering. “Sy trap ál meer op haar voetjie en het sommer gesê: ‘Sjoe, ek is hard op myself.’ Sy druk haarself ongelooflik, al is van die oefeninge moeilik.

Noord-Kaapse meisie (9) sterk aan ná slangbyt | News Article

Carmi Louw glimlag moedig vanuit haar hospitaalbed. Foto verskaf

“Ons is so dankbaar vir God se liefde, getrouheid en genade – en vir elkeen wat vir Carmi en ons gesin gebid het.”

OFM Nuus/Charne van de Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.