Central SA
Lewe van vermoorde Vaal-perdeafrigter op Olifantshoek gevier─── ZENANDE MPAME 13:58 Fri, 17 Apr 2026
’n Gedenkdiens vir ’n gesiene perdeafrigter van die Vaaldriehoek word vir dié naweek beplan.
Jannie Bornman (73) is op Sondag 4 April vermoor by die Vaal-resiesbaan op Viljoensdrift. Sy lewe was ten nouste verweef met die perderesiesbedryf nadat hy in 1997 dié rigting ingeslaan het.
As perdefluisteraar was hy bekend daarvoor dat hy die potensiaal in ’n kon sien wat ander misgekyk het. Sy toewyding en liefde laat ’n blywende indruk op die bedryf.
Nadat Bornman sy lisensie bekom het, het sy amptelike loopbaan as perdeafrigter in Bloemfontein begin. In 2005 het hy na die Diamantstad verhuis, waar hy welslae in die Noord-Kaap behaal het.
‘My pa was lief vir ons, en ons het die week voor sy dood lekker gesels, so ons
vind troos daarin en in ons herinneringe aan hom’
Die verdagte, Mzamo Kepile (53), kom na verwagting weer binnekort voor in die Sasolburgse landdroshof op aanklag van moord waar hy om regshulp sal aansoek doen.
“Alles voel nog bietjie onwerklik,” het Bornman se seun, Jan-Hendrik, onlangs gesê. “Maar ons is ’n hegte familie en ondersteun mekaar deur dit alles.
“My pa was lief vir ons, en ons het die week voor sy dood lekker gesels, so ons vind troos daarin en in ons herinneringe aan hom.”
Sy pa en die verdagte het aan dieselfde tafel geëet, vertel Jan-Hendrik. Hy het 20 jaar lank na hom gekyk.

Bornman het in 2020 na die Vaaldriehoek verhuis. Vaalweekblad berig die covid-19-pandemie het hom gedwing om af te skaal.
Die perderesieswebtuiste 4Racing berig hy laat ’n groot leemte. “Hy was altyd optimisties oor die toekoms en was ’n gerespekteerde en gewilde lid van die Vaal-afrigterskorps.”
Dis hartseer om ’n lid van die resiesgemeenskap op dié wyse te verloor, berig die webtuiste, maar “ons vertrou en ondersteun die regsproses en sal wetstoepassers op enige moontlike manier help”.

Die laaste boodskap wat Jan-Hendrik van sy pa gekry het, was ’n eenvoudige foto van ’n sjokolade-en-aarbeikoek wat hy gebak het. “Dis die laaste ding wat ons van hom sal sien,” vertel sy seun.
Op die dag van sy dood het Bornman en die verdagte, wat op dieselfde perseel woon, blykbaar gekuier tot hulle stry kry oor perderesiesuitslae. Toe die woordewisseling handuit ruk, het die 53-jarige sy werkgewer glo met ’n graaf bygedam.
“Die verdagte het ’n veiligheidsbeampte later van die voorval vertel,” sê Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder, “wat die nooddienste dadelik ontbied het.”
Die oupa van vyf is op die toneel dood verklaar, terwyl sy werknemer in hegtenis geneem is.
Bornman se gedenkdiens word vir Saterdag (18/4) om 10:00 in die Gereformeerde Kerk Olifantshoek beplan.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

