Central SA
Verdagte ontsnap uit aanhouding op Heilbron─── 08:52 Sat, 18 Apr 2026
Die Vrystaatse polisie vra die publiek se hulp om die verdagte op te spoor. Die verdagte is vermoedelik ’n Mosambiekse burger.
Die man is Vrydag (10/4) in hegtenis geneem in verband met ’n inbraak op ’n plaas. Hy is na die Heilbron-polisiekantoor vervoer en met hul aankoms omstreeks 03:00 het die verdagte daarin geslaag om uit polisieaanhouding te ontsnap.
Hy het na die nabygeleë bosse gevlug, sê sers. Josephine Rani. Die polisie het onmiddellik met ’n soektog begin.
Gevaarlik
“Die polisie doen ’n beroep op enigiemand wat inligting het oor die verdagte se verblyfplek, of wat moontlik enige verdagte individue in die omgewing gesien het, om na vore te kom.” Rani waarsku gemeenskapslede hy kan moontlik gevaarlik wees.
Enigiemand met inligting kan Pirimine Mofokeng, ondersoekbeampte, by 064 841 5156 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel of wenke anoniem deur die MySAPS-app stuur.
Intussen soek die polisie op Bethlehem ook na ’n verdagte.

Dié verdagte word deur die polisie op Bethlehem gesoek. Foto verskaf
Beamptes doen ook ’n beroep op die publiek vir hulp om ’n persoon van belang op te spoor wat moontlik kan help met ’n voortgesette ondersoek na ’n rooftog wat in Desember plaasgevind het. Volgens ao. Mmako Mophiring, provinsiale polisiewoordvoerder, het twee mans die slagoffer in High Street genader.
“Die slagoffer is na bewering teen ’n muur vasgedruk, waarna een van die verdagtes sy sakke deursoek en kontant geneem het voordat albei van die toneel gevlug het.”

Met die hulp van die slagoffer is sketse van die verdagtes saamgestel wat kan help om hulle te identifiseer.
Enigiemand met inligting kan 073 704 9403 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel of wenke anoniem deur die MySAPS-app stuur.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
