Central SA
Motorfietsryer gee eerste treë ná breinbesering─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:32 Mon, 20 Apr 2026
’n Motorfietsryer, wat kritiek beseer is tydens ’n geldinsamelingsrit, het sy eerste ondersteunde treë gegee.
Jason Kilian het ’n matige tot ernstige traumatiese breinbesering in ’n ongeluk op 7 Maart opgedoen. Hy toon nou bemoedigende neurologiese tekens, insluitend ’n normale EEG sonder aanvalsaktiwiteit en verbeterde reaksie.
Kilian, stigter van Modderbok Adventures, is naby Carnarvon in die Noord-Kaap beseer tydens The Epic Ride, ’n reis van 4 800 km om geld in te samel vir die Hero Burn Foundation.
Hy het Sondag (19/4) tydens fisioterapie ’n paar ondersteunde treë gee. “Dit was ’n werklik groot en emosionele oomblik vir ons almal, wat nog meer spesiaal gemaak is deur die grootste, mooiste glimlag op sy gesig,” sê Annerie du Plooy, stigter van die Hero Burn Foundation.

Jason Kilian toon goeie vordering. Foto verskaf
Hoewel daar duidelike tekens van verbetering is, is daar steeds uitdagings. Dokters sê hy het ’n breinbesering opgedoen wat berug is vir sy onvoorspelbare herstel. Diy gebeur wanneer die brein vinnig verskuif, draai of skud binne die skedel, soos tydens ’n motorongeluk of ’n harde val.
Killan se toestand wissel steeds daagliks, met periodes van diep slaap, beperkte reaksie en af en toe pogings om te praat.
Een van die voortdurende bekommernisse is sy verlamde regterstemband, wat steeds sy vermoë kniehalter om veilig te sluk. Terwyl hy nou klein slukkies onder toesig begin neem as deel van terapie, bly die risiko van aspirasie voortduur.
“Spesialiste sê die slukrefleks sal tyd, rehabilitasie en terapie verg om te herstel,” sê Du Plooy.
Sy breinskanderings toon nog verskeie areas van besering, insluitend in streke wat verantwoordelik is vir spraak, geheue en kommunikasie. “Dokters sê egter daar is geen nuwe bloeding of strukturele agteruitgang nie, ’n belangrike teken van stabiliteit.
“Hoewel die breinbesering en vorige areas van bloeding steeds sigbaar is, word dit verwag en is dit deel van die natuurlike genesingsproses,” vertel sy.
Nog ’n belangrike ontwikkeling is dat sy infeksie nou onder beheer is, nadat dit voorheen sy herstel bemoeilik het, sê sy. Sy infeksiemerkers neig afwaarts, wat ’n duidelike teken is sy liggaam reageer goed op behandeling.

Jason het sy eerste tree gegee ná meer as 'n maand in die hospitaal. Foto verskaf
Kilian word ook behandel vir slaapapnee en sal ’n CPAP-masjien (Continuous Positive Airway Pressure) benodig om te verseker dat sy brein genoeg suurstof tydens slaap ontvang.
Ten spyte van die vordering is Killian steeds hoogs sensitief vir stimulasie en het hy ’n kalm en beheerde omgewing nodig.
“Hy sal na verwagting na ’n spesialisrehabilitasie-instelling in Pretoria oorgeplaas word, waar hy die volgende fase sal begin van wat na verwagting ’n lang en veeleisende herstelpad sal wees,” sê Du Plooy. “Volgens die dokters kan die herstel van hierdie tipe breinbesering maande tot jare duur. Die uitkoms is ook nie duidelik nie.”
In die dae ná die ongeluk het ’n goeie vriend, Jaco Prinsloo, eienaar van Motorcycle Tours Africa, die res van The Epic Ride namens Kilian voltooi. Hy het op 13 Maart by Kapstadt Brauhaus op Stellenbosch aangekom ter ere van die reis wat Kilian begin het.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
