On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende Bloemfonteinse skaapdief uit vrieskas gehaal

───   MORNÉ VAN ROOYEN 15:41 Mon, 20 Apr 2026

Vermeende Bloemfonteinse skaapdief uit vrieskas gehaal | News Article
Altesaam 30 skape is teruggevind. Foto: SAPD

Bloemfonteinse polisiebeamptes het geen moeite ontsien om sewe vermeende skaapdiewe aan te keer nie, van wie een selfs uit ’n vrieskas gehaal moes word.

Die sewe verdagtes het Maandag (20/4) vlugtig voorgekom in die plaaslike landdroshof op aanklagte van veediefstal. Hulle is Vrydag in hegtenis geneem nadat beamptes van Bloemspruit se eenheid vir misdaadvoorkoming op ’n wenk gereageer het oor gesteelde skape by ’n woonplek in die township Phomolong, 8 km suidoos van die Bloemfonteinse middestad.

“Die beamptes het flink gereageer,” sê lt.kol. Thabo Covane, “en moes ’n entjie te voet aflê weens swaar reën. Omstreeks 20:10 het hulle die betrokke adres bereik, waar hulle onmiddellik ’n wit Nissan NP200 met ’n kappie gewaar het.”

Altesaam sewe verdagtes is in en by die informele woonplek in Phomolong aangekeer. Foto: SAPD

Twee mans het in die bakkie gesit. By nadere ondersoek het die polisie op lewende skape onder die kappie afgekom. “Die twee mans is summier in hegtenis geneem,” vertel Covane.

Hierna het die beampte die plakkershut op die perseel binnegegaan en op nog skape binne-in afgekom. “Nog twee verdagtes is aangetref waar hulle agter ’n groot vrieskas weggekruip het en is ook gearresteer,” sê Covane.

Terselfdertyd het ’n Mitsubishi Colt buite stilgehou. Die polisie het ’n vyfde en sesde verdagte aangekeer wat ook in besit van gesteelde vee betrap is. Die laaste verdagte, aan wie die woonplek behoort, is betrap waar hy binne-in die vrieskas weggekruip het.

Van die skape was in die plakkershut, terwyl ander op bakkies gekry is. Foto: SAPD

Altesaam 30 stuk skaap is gevind en aan hul regmatige eienaar terugbesorg, wat saam met beamptes van die eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies daar aangekom het, voeg Covane by. “Kenners van die plaaslike misdaadrekordsentrum het ook opgedaag om die toneel te verwerk.”

Die sewe verdagtes, tussen die ouderdomme van 30 en 46, bly in aanhouding in die Grootvlei-gevangenis ná hul eerste hofverskyning. Hulle sal na verwagting volgende Dinsdag (28/4) om borgtog aansoek doen. 

Lesotho-burger bly in hegtenis

Intussen kom ’n vermeende veedief op dieselfde dag voor in die Lichtenburgse landdroshof nadat hy Vrydag betrap is met vyf lewende bokke, sê kol. Adèle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. 

’n Tweede, vroulike verdagte is Maandag tydens hul hofverskyning vrygelaat omdat sy aangevoer het sy het duim gegooi toe die ander verdagte in hegtenis geneem is. Sy kan nie met die misdaad verbind word nie.

Die bestuurder van die voertuig, Mamapele Mahlaba Mpewa (40), van Lesotho, word aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde vee en bly intussen in aanhouding, sê Myburgh. Die bokke kon danksy brandmerke aan hul eienaar terugbesorg word.

Luidens die jongste misdaadsyfers het veediefstal in die tweede helfte van 2025 in talle provinsies afgeneem. In die Noord-Kaap het aangemelde gevalle van 192 in die vorige ses maande tot 161 gedaal en in Noordwes met 19 tot 745.

’n Groot afname is ervaar in die Vrystaat, waar veediefstalle met 114 gedaal het. Die provinsie het 612 gevalle in die laaste ses maande van 2025 aangemeld, wat 117 minder is as die ooreenstemmende tydperk. Landwyd is 429 minder gevalle by die polisie aangemeld.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.