On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Jagersfontein-slikdamramp: Vyf weer voor hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:02 Tue, 21 Apr 2026

Jagersfontein-slikdamramp: Vyf weer voor hof | News Article
Die vyf beskuldigdes met ’n vorige hofverskyning. Foto: Charne van der Merwe

Die hofsaak teen vyf mans en verskeie maatskappye wat verband hou met die Jagersfontein-slikdamramp langer as drie jaar gelede, hervat Woensdag (22/4).

Dit sal na verwagting na die hooggeregshof in Bloemfontein oorgeplaas word vir ’n voorlopige verhoor. Die beskuldigdes staan tereg op 13 aanklagte, waaronder drie van moord, sowel as omgewingsbesoedeling en oortredings van damveiligheidsregulasies kragtens die Strafregwysigingswet.

Die beskuldigdes is Marius de Villiers (62), Petrus Johannes Combrink (60), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Gert Abraham Coetzee (34) en Jan Homes Viljoen (45), saam met Jagersfontein Developments en verskeie verwante maatskappye.

Hulle het die eerste keer op 10 September in die plaaslike landdroshof voorgekom, een dag voor die derde herdenking van die ramp. Landdros Phumeza Mcilongo het die beskuldigdes op borgtog vrygelaat.

Die slik het in 2022 deur Jagersfontein gespoel. Foto verskaf

Die slikdamwal het in September 2022 ineengestort en wydverspreide verwoesting in die nedersettings Charlesville en Itumeleng veroorsaak. Ongeveer 186 inwoners is dakloos gelaat, en nabygeleë plaasgrond het groot skade gely. Volgens die Bench-Marks-stigting het een boer ongeveer 90% van sy skape verloor.

Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu het omgekom. Khuthu se liggaam is nie gevind nie. Luidens die lykskouingsverslag het Williams en Moseu tekens getoon wat ooreenstem met verdrinking.

Ander aanklagte hou verband met:

 • beduidende omgewingsbesoedeling;
 • die versuim om aan watergebruiklisensievoorwaardes te voldoen;
 • die verskaffing van valse of onvolledige inligting;
 • die belemmering van amptenare van die departement van water en sanitasie (DWS) om hul pligte uit te voer;
 • die versuim om DWS-riglyne na te kom;
 • die versuim om ’n dam met veiligheidsrisiko’s te registreer;
 • ongemagtigde veranderinge aan ’n dam met veiligheidsrisiko’s;
 • die versuim om ’n professionele span vir damontwerp aan te stel;
 • die versuim om aan kategorie III-dammonitering en -verslagdoening te voldoen;
 • die versuim om aan kategorie III-damveiligheidsvereistes te voldoen;
 • die oortreding van art. 9 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, Wet 85 van 1993; en
 • kwaadwillige saakbeskadiging (121 aanklagte).

Die beskuldigdes het in November 2011 begin met die herverwerking van ou mynafval in die Kopanong-munisipaliteit, ’n verwerkingsaanleg gebou en ’n afvaldam uitgebrei tot ’n slikdam met bykomende westelike (2010) en oostelike (2015) gedeeltes wat tussen 2017 en 2018 bygevoeg is. Die oostelike gedeelte het opwaartse vulling gebruik om fyn slik te stoor.

Die toneel van die slikramp in September 2022. Foto verskaf

Teen 2015 het die dam 50 000 m³ oorskry, wat dit as ’n hoërisiko-Kategorie III-dam onder die Nasionale Waterwet geklassifiseer het, maar dit is nooit soos vereis geregistreer nie. ’n Watergebruikslisensie is in Januarie 2018 uitgereik.

Die staat beweer die beskuldigdes het misleidende of onvolledige stabiliteitsdata (2018–2022) ingedien, kritieke data (2013–2022) weerhou, die dam sonder goedkeuring uitgebrei (2017–2022), en afvallimiete drievoudig oorskry. 

Moniteringsverslae ná 2017 het veiligheidsassesserings en behoorlike sertifisering ontbreek, wat verskeie artikels van die Wet oortree het.

Op 11 September 2022 het die dam se suidelike oewer ineengestort, wat 5,1 miljoen m³ slik en water losgelaat het. Die fout het bo begin en het insakking, oorloop en strukturele ineenstorting veroorsaak weens die verswakte fondasie se skuifsterkte.

Die beskuldigdes het die afgelope jaar meermale in die landdroshof verskyn waar die saak voorheen uitgestel is om die verdediging tyd te gun om die inhoud van die dossier te bestudeer.

Adv. Barry Roux tree op namens De Villiers, Combrink en Jagersfontein Development, Adriaan Janse van Rensburg verteenwoordig Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners, en adv. Allen Simpson verskyn vir Viljoen. Adv. Mannie Witz verteenwoordig SRK Consulting (Suid-Afrika).

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.