On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sinkgat op N12 kan Stilfonteiners weer ontwrig

───   13:17 Tue, 21 Apr 2026

Sinkgat op N12 kan Stilfonteiners weer ontwrig | News Article
’n Pyp onder deur die N12 het weer gebars op dieselfde plek waar dit vroeër herstel is. Foto verskaf

Kommer heers oor ‘n sinkgat wat aan die N12 langs Stilfontein ontstaan het.

’n Sinkgat slegs meters daarvandaan is vroeër teen groot koste herstel nadat verkeer vir maande deur die dorp herlei moes word, sê Pieter du Preez, VF Plus-raadslid in die Matlosana-munisipaliteit. Dit het groot ontwrigting vir inwoners meegebring.

Benewens die verkeerschaos wat ontstaan het weens die toevloei van veral swaar vragmotors in woongebiede, is groot skade aan Stilfontein se strate en selfs sypaadjies aangerig wat steeds nie volledig herstel is nie.

Met die herverskyning van ’n sinkgat Maandagmiddag (20/4) op bykans dieselfde plek, vrees inwoners dieselfde lot wag op hulle.

‘n Nuwe sinkgat is besig om in die N12 gestalte te kry. Foto verskaf

Die aanvanklike sinkgat het op die N12, ’n hoofroete na die Noord- en Wes-Kaap, ontstaan weens ’n lekkasie in ’n pypleiding van die Midvaal-watermaatskappy, wat water na die Muranti-reservoir in Klerksdorp herlei. Dit blyk dat die pyp nou weer op dieselfde plek waar dit vroeër herstel is, gebars het en 'n nuwe sinkgat laat vorm het.

’n Projek om hierdie verouderde pypleiding in sy geheel te vervang sloer reeds vir jare, sê Du Preez.

Inwoners van onder meer Doringkruin en Wilkoppies in Klerksdorp kan verwag om in die afsienbare toekoms probleme met watertoevoer te ervaar weens die stukkende pyp.


“Dit is onaanvaarbaar dat staatsverbonde entiteite se gebrek aan behoorlike instandhouding aan kritieke infrastruktuur telkens hele gemeenskappe in Matlosana ontwrig en verdere verval van basiese infrastruktuur veroorsaak,” voeg Du Preez by.

Dit skaad die plaaslike ekonomie, en die vermorsing van plaaslike inwoners se beperkte geldelike bronne om hierdie onvoorsiene skade te herstel, is ’n skande.

“Die VF Plus sal antwoorde eis van Midvaal en alle instansies betrokke by die oorsake van hierdie klaarblyklike nalatigheid, swak instandhouding en gebrekkige beplanning en projekbestuur.”


Die kruising van Ianstraat en Chris Haniweg (R30). Foto: Skermgreep

Intussen verwelkom die DA in Matlosana die lang verwagte herstelwerk aan die besige kruising van Ianstraat en Chris Haniweg (R30) in Klerksdorp.

Dit volg op volgehoue druk van die DA, insluitend formele skriftelike versoeke aan sowel die munisipale bestuurder as die raad, sê raadslid Jacky Basson.

“Ná byna drie maande se vertragings is die werk uiteindelik afgehandel en die kruising in volle werking.” Sy betreur dit egter dat die werk so lank geduur het.

“Inwoners is aan hulle eie lot oorgelaai om die onveilige en swak bestuurde situasie in die kruising te bestuur, veral gedurende spitstye.” Basiese dienslewering soos hierdie moet vinnig geskied en die eerste keer reg uitgevoer word. 

Die DA vra die nuut herstel deel moet nou behoorlik in stand gehou word.

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.