Central SA
Vermiste man glo raakgery, in hospitaal opgespoor─── 15:10 Tue, 21 Apr 2026
Die Oos-Vrystaatse polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat ’n man wat aanvanklik as vermis aangemeld is, glo raakgery en toe in ’n hospitaal opgespoor is.
Die Warden-polisie het Maandag (20/4) die publiek se hulp gevra om Funele Mketule Mdlalose (30) te help opspoor. Luidens ’n mediaverklaring is hy die laaste keer gesien op ’n Facebook-video wat hy regstreeks gedeel het.
Op die video, gemaak by die Warden-polisiekantoor, beskryf Mdlalose homself as ’n sanger en sê hy verkeer in gevaar en word deur mense agtervolg.
Hy sê hy was by ’n ateljee in Durban voordat hy ’n taxi na Johannesburg gehaal het. Tydens die rit het mense hom in ’n motor agtervolg.

Funele Mketule Mdlalose is glo ’n sanger en was van Durban af na Johannesburg onderweg. Foto: Facebook
Hy het eindelik by Warden uit die taxi geklim, maar sê voertuie het hom steeds agtervolg. Hy het toe daarin geslaag om by die polisiekantoor uit te kom.
Hy beweer toe hy probeer het om huis toe te bel, het die polisie hom aangesê om dit nie te doen nie. Hy het sy ligging met mense wat hy ken, gedeel en verduidelik dat hy tot by die Warden-polisiekantoor agtervolg is en vir sy lewe gevrees het.
Hy voeg by hy voel nie veilig by die polisiekantoor nie nadat sy broer glo telefonies aan die beamptes gesê het hy is geestelik versteurd. Hy pleit om hulp omdat hy nie die omgewing ken nie.
Dinsdag (21/4) het die polisie in ’n opvolgverklaring gesê Mdlalose is in ’n plaaslike hospitaal opgespoor nadat ’n motor hom op die N3-hoofweg raakgery het. Dit is nie bekend of hy ernstig beseer is nie.
Intussen vra die Harrismith-polisie in ’n onverwante saak hulp om rowers op te spoor wat toegeslaan het op ’n woning in die dorp.
’n Vrou was in Januarie vanjaar tuis terwyl die baba-oppasser die kinders gebad het. Hulle het ’n vreemde geluid gehoor, en toe voortgegaan met hul bedrywighede.
Drie gewapende mans het skielik hul verskyning gemaak en die vroue aangeval. Hulle het juweliersware, vuurwapens en kontant geëis, waarna hulle die vrou van die huis se foon geneem, hulle vasgebind en op die vlug geslaan het.
Mense met inligting word gevra om speurkonst. J.M. Mtagani, die ondersoekbeampte, te bel by 073 395 5173, of gebruik te maak van die Stopmisdaad-nommer, 08600 10111.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

