Central SA
30 jaar tronkstraf vir De Aar-pa wat baba vermoor─── MORNÉ VAN ROOYEN 15:18 Tue, 21 Apr 2026
’n Noord-Kaapse polisiebeampte word geloof vir sy toewyding, wat gehelp het om ’n lang gevangenisstraf vir ’n kindermoordenaar te verseker.
Die streekshof op Philipstown het die 35-jarige van De Aar 30 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op sy baba 18 maande gelede. Hy is in hegtenis geneem nadat die suigeling dood verklaar is met sy aankoms by die plaaslike hospitaal.
Polisiebeamptes van De Aar is vroegaand op Saterdag 30 November 2024 na die toneel ontbied nadat hulle berig ontvang het dat die verdagte sy meisie en baba aanrand, sê lt.kol. Thabo Litabe, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Sers. Heroldt Saunders van Philipstown se speurafdeling. Foto: SAPD
Iemand het die baba van elf maande reeds na ’n plaaslike hospitaal geneem toe die polisie omstreeks 19:30 opdaag, maar dit was te laat om sy lewe te red.
Die 35-jarige het in aanhouding gebly tot hy voorgekom het in die streekshof op die buurdorp, waar hy skuldig bevind en dienooreenkomstig gevonnis is, sê Litabe. Hy is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit kragtens die Wet op Vuurwapenbeheer.
“Die ondersoek is gelei deur speurdersers. Heroldt Saunders van Philipstown se speurafdeling deur wie se vlytige werk die beskuldigde aan die kaak gestel is,” sê Litabe.
Genl.maj. Nomana Mtukushe, Pixley ka Seme-distrikskommissaris, loof die ondersoekbeampte vir die noukeurige wyse waarop hy die saak behartig het. Sy waarsku teen geslagsgeweld en vrouemoord en sê sulke “afstootlike (misdade) word veroordeel en sal nie geduld word” in haar distrik nie.
Intussen verwelkom die polisie in Namakwaland die 18 jaar effektiewe tronkstraf wat ’n 21-jarige in die streekshof op Port Nolloth vir moord opgelê is, sê kapt. Ivan Magerman, Namakwa-distrikswoordvoerder. Hy mag ook nie weer ’n vuurwapen besit nie

Konst. Denver van den Heever van die polisie op Port Nolloth. Foto: SAPD
Devon Carlito Joseph en sy broer het op 14 Junie stry gekry in die plaaslike township Sizamile. Toe ’n 16-jarige tussenbeide kom, het Joseph hom noodlottig met ’n mes gesteek.
Brig. Schalk Andrews, distrikskommissaris, prys die “uitstekende speurwerk” van speurderkonst. Denver van den Heever van Port Nolloth se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, sê Magerman.
“Sy noukeurige en toegewyde pogings het die deurslag gegee (deur) ’n sterk saak te bou (om) dié betekenisvolle vonnis te verseker en geregtigheid vir die familie te bewerkstellig.”
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

