On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende oliedief van Lichtenburg vir eers aangehou

───   MORNÉ VAN ROOYEN 15:26 Tue, 21 Apr 2026

Vermeende oliedief van Lichtenburg vir eers aangehou | News Article
Foto ter illustrasie: Facebook/Lichtenburg Information

’n Verdagte van Lichtenburg bly in polisieaanhouding tot sy volgende hofverskyning nadat hy glo by ’n sakeperseel op die dorp ingebreek en toe die gesteelde goedere van die hand probeer sit het.

’n Sekerheidsmaatskappy het ’n plaaslike sake-eienaar Donderdagoggend (16/4) laat weet dat iemand onregmatig toegang tot sy onderneming verkry het, sê sers. Kelebogile Morake, Noordwes-polisiewoordvoerder. Daar gekom, het hy gesien dat ’n glasdeur gebreek was.

By nadere ondersoek het die eienaar vasgestel motorolie en oorleikabels is gesteel. Die waarde van die gesteelde artikels plus die skade beloop sowat R5 000.

Die middag het beamptes van Lichtenburg se misdaadvoorkomingseenheid gereageer op inligting wat hulle oor die inbraak ontvang het, sê Morake, en die verdagte in die dorp gewaar. Hy het na bewering probeer om die gesteelde motorolie te verkwansel.

Saak uitgestel

Die 20-jarige is in hegtenis geneem vir huisbraak en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Beamptes het beslag gelê op verskeie goedere in sy besit waarvoor hy nie verantwoording kon doen nie.

Thabo Isaac Motlhatlhedi het Maandag die eerste keer vlugtig voorgekom in die Lichtenburgse landdroshof waar sy saak uitgestel is tot 8 Junie vir verdere ondersoek. Hy bly intussen in polisieaanhouding.

Genl.maj. dr. Ryno Naidoo, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, loof beamptes van Mahikeng se eenheid vir misdaadintelligensie en Lichtenburg s’n vir misdaadvoorkoming vir hul samewerking, wat tot die inhegtenisneming en beslaglegging gelei het.

“Hy sê die polisie sal aanhou om hard te werk sodat oortreders agter tralies kan beland,” sê Morake.

Speurdersers. Jacob Thabo Ngwenya, ondersoekbeampte. Foto: SAPD

Naidoo is ook ingenome met speurdersers. Jacob Thabo Ngwenya, ondersoekbeampte, en ander betrokkenes se toegewydheid, wat daartoe bygedra het dat ’n inbreker wat van plan was om moord te pleeg, tronkstraf opgelê is.

Die streekhof in Mogwase, 45 km noord van Rustenburg, het Rasephei Peter Ramathiki (49) Maandag lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy sy eksmeisie met ’n byl aangeval het.

In die hof is getuig hoedat Mathapelo Maphosa (33) haar verhouding met die beskuldigde beëindig het omdat hy haar gedurig mishandel het, sê Morake. Op Maandag 19 Mei was sy tuis saam met haar sibbes toe Ramathiki met ’n byl opdaag.


Hy het haar daarmee bygedam, maar blykbaar opgehou toe sy voorgee om dood te wees. Haar sibbes het hulp by die bure ontbied terwyl haar aanvaller op die vlug geslaan het.

Sy is inderhaas na ’n plaaslike hospitaal geneem terwyl die voorval by die polisie in Mogwase aangemeld is, sê Morake. “Die polisie het flink gereageer en voorlopige ondersoek het daartoe gelei dat Ramathiki later daardie dag aangekeer is. Hy is borgtog geweier.”

Naidoo prys speurdersers. Jacob Thabo Ngwenya se ondersoekwerk. Die polisie sal steeds voorkeur gee aan die stryd teen gesinsgeweld en vrouemoord omdat dit “ ’n growwe skending van menseregte is en die gemeenskap se veiligheid en waardigheid ondermyn”, sê Morake.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.