On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘Welkom in Potholestroom’ – studente keelvol vir slaggate

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:05 Wed, 22 Apr 2026

‘Welkom in Potholestroom’ – studente keelvol vir slaggate | News Article
Die NWU-studente is keelvol vir slaggate. Foto verskaf

’n Noordwes-munisipaliteit word 30 dae gegun om slaggate te herstel wat groot skade aan motors kan veroorsaak.

Tien slaggate is deur AfriForum Jeug se PUK-tak in Potchefstroom geïdentifiseer. Die tak het vandeesweek sy veldtog Gatvol begin uit protes teen die verslegtende toestand van paaie rondom die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus.

Die organisasie het Maandag (20/4) ’n brief gerig aan Kgomotso Kumbe, munisipale bestuurder van JB Marks, sê Janké Crots, voorsitter en woordvoerder van AfriForum Jeug se Puk-tak.

“In die aanloop tot die amptelike begin van die Gatvol-veldtog het ’n aantal AfriForum Jeug-lede (Donderdag [16/4]) bymekaargekom om hul frustrasie oor die swak toestand van die paaie sigbaar uit te spreek. Tydens hierdie byeenkoms het studente – wat in van die grootste slaggate in hierdie dorp gestaan het – die woord “gatvol” strategies op hul sitplek gespel.”

Tekens met “Welkom in Potholestroom” en “Duiklesse hier: Hier duik meer as net bande” is by hierdie slaggate opgerig.

Volgens AfriForum Jeug wil die kennisgewingborde motoriste teen die gevaarlike slaggate waarsku en die munisipaliteit se aandag daarop vestig dat dringende ingryping nodig is.

Hulle weier om hierdie “nuwe normaal” te aanvaar, sê Crots. “Slaggate is nie deel van ’n alledaagse avontuur of verskynsel nie. Dit is ’n teken van verwaarlosing en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid.”

Dis nie swak infrastruktuur nie, maar die sistemiese ineenstorting van dienslewering wat nie meer geïgnoreer kan word nie.

AfriForum Jeug hou vol dat Potchefstroom se paaie nou gekenmerk word deur uitgebreide slaggate wat nie meer net ongerief veroorsaak nie, maar ook ernstige veiligheidsrisiko’s vir alle padgebruikers inhou. Die organisasie sê die munisipaliteit se versuim om die paaie in stand te hou lei ook herhaaldelik tot voertuigbrekings.

Petisie begin

“Die munisipaliteit het ’n kritieke verantwoordelikheid om openbare infrastruktuur in stand te hou en die veiligheid en funksionaliteit daarvan te verseker. Dit is ’n verantwoordelikheid wat ingevolge die Grondwet op munisipaliteite geplaas word.

“Daarom is die versuim om paaie behoorlik in stand te hou ’n blatante skending van die Grondwet wat ernstige regsimplikasies het,” sê Crots. Sy vra studente, inwoners en ouers moet AfriForum Jeug se petisie en die Gatvol-veldtog ondersteun om die munisipaliteit so aanspreeklik te hou.

“Ons hoop om werklike verandering deur hierdie veldtog te bewerkstellig en doen dus ’n beroep op die munisipaliteit om die herstel van geïdentifiseerde slaggate te prioritiseer.”

Die studente het 'n Gatvol-veldtog begin. Foto verskaf

’n Deursigtige en volhoubare padonderhoudsplan word ook opgestel en moet geïmplementeer word, sê Crots. “Ons (versoek) gereelde terugvoer om die publiek van inligting te voorsien oor die vordering en uitdagings wat in hierdie verband ervaar word.

“Veilige paaie is nie ’n luukse nie – dit is ’n basiese reg. Ons sal nie langer toekyk terwyl ons infrastruktuur agteruitgaan en ons mense in gevaar gestel word nie. Ons kies om op te staan, te praat en (op te tree),” sê Crots.

OFM Nuus het JB Marks om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.