On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp: Oudprokureur van Noordwes weer voor hof ná ongeluk vier eis

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:10 Wed, 22 Apr 2026

Klerksdorp: Oudprokureur van Noordwes weer voor hof ná ongeluk vier eis | News Article
Dié vier jong mense het in ’n ongeluk gesterf. Foto’s verskaf

’n Prokureur, wat daarvan beskuldig word dat hy verantwoordelik is vir die dood van vier jong mense, maak na verwagting Woensdag (22/4) sy eerste verskyning in die streekhof.

Die prokureur, Edward Letsie (34), staan tereg op vier aanklagte van strafbare manslag. Dit spruit uit die dood van Ruan Esterhuizen (21), sy meisie, Jackie Willis (21), sy beste vriend, Max Knott-Craig (22), en Jané Janse van Rensburg (19).

Letsie het voorheen op 11 Maart in die Klerksdorp-landdroshof verskyn, maar die verrigtinge is uitgestel nadat sy regsverteenwoordiger afwesig was en Letsie self ’n uitstel versoek het.

Volgens hofkommunikasie het Letsie die hof in kennis gestel sy prokureur is van voorneme om formele vertoë aan die aanklaer te rig rakende vertragings in die vervolgingsproses. Dit was sy eerste verskyning in die hof sedert die voorval op 23 Januarie.

Max Knott-Craig. Foto verskaf

Albie, Jané se pa, sê die proses moet sy gang gaan en hy is dankbaar dat dit nou na die streekhof oorgeplaas is en nie meer as ’n verkeershofsaak hanteer word nie. “Dit (is) dalk stadig en stap-vir-stap, maar dit beweeg steeds in die regte rigting.

“Ons verstaan dat dit baie geduld van ons almal sal verg, en dit is iets wat ons vorentoe sal moet handhaaf. As ons probeer om alles te haas of te veel te dink, sal dit net onnodige stres skep voordat dinge ontvou soos dit moet. Ons vertrou die geregtelike proses, want dit is al wat ons nou kan doen.”

Jackie Willis. Foto verskaf

Volgens Albie is die oorledenes se naasbestaandes bewus daarvan dat die beskuldigde ’n voormalige prokureur is, hoewel dit nie heeltemal duidelik is of sy ongeluk daartoe gelei het dat hy verwyder of uitgesluit is nie, of dat dit as gevolg van vorige probleme of voorvalle was nie.

“Gegewe sy agtergrond is hy vertroud met die regstelsel en verstaan hy hoe om verskeie prosedures te gebruik om ’n saak te verleng en uit te rek. Ons moet onsself voorberei vir daardie moontlikheid, aangesien dit waarskynlik sal gebeur tensy iets intussen verander en hy gevonnis word.”

Jané Janse van Rensburg met die engelvlerkhangertjie. Foto verskaf

Die vier vriende het op 13 Oktober 2024 omstreeks 19:00 in ’n botsing op die kruising van die N12 en Plataanlaan gesterf.

Hulle was op pad huis toe van die Matlosana-winkelsentrum nadat hulle die dag saam by die dam deurgebring het. By die verkeerslig op pad huis toe is hul voertuig getref deur ’n Mercedes-Benz, wat in die teenoorgestelde rigting onderweg was.

Ruan Esterhuizen. Foto verskaf

Esterhuizen, Willis en Janse van Rensburg is op slag dood. Knott-Craig het ’n paar uur later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die bestuurder van die Mercedes-Benz het na bewering van die toneel gevlug en die voertuig agtergelaat. Hy het hom twee dae ná die ongeluk aan die polisie oorgegee, het kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, voorheen gesê.

Hollie Janse van Rensburg se wêreld het kort voor 19:45 daardie Vrydagaand in duie gestort toe sy hoor haar dogter was in ’n ernstige ongeluk. Sy het Jané op die toneel uitgeken deur onderskeidende kenmerke en juweliersware, insluitend ’n engelvlerkhangertjie wat Hollie vir haar gegee het.

Omstreeks dieselfde tyd het Cherice Grobler die tyding gekry dat haar broer, Ruan, ook in ’n ongeluk was. Albei families beskryf die slagoffers as jong mense vol drome en planne wie se lewe kortgeknip is.

Die families sê die ongeluk het hulle verpletter. Die ongeluk “het nie net vier lewens daardie nag geneem nie. (Dit) het vier gesinne se lewe verwoes. Ons sal nie ophou totdat geregtigheid geskied nie,” sê Cherice en Hollie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.